“Kry die dino-tannie se handtekening, Ma

 

As jy gelukkig genoeg is om ‘n ouer te hê wat ‘n dinosouruskenner is, sal jy absoluut geen idee hê hoe dit voel om die kind van ‘n eertydse Latyn-onderwyseres te wees nie. Want waar jy gewoond is om ‘n hele paar “wow’s” te kry wanneer mense vra wat jou ma-hulle dan doen, is mense soos ek eerder gewoond aan ‘n “huh, sy gee wat?” en selfs ‘n “hoekom?”

Dinosourus-kenner prof Anusuya Chinsamy-Turan. Foto: Peter Rudden

Dinosourus-kenner prof Anusuya Chinsamy-Turan. Foto: Peter Rudden

So kry ek myself ‘n bietjie jammer op pad na die Universiteit Kaapstad om met paleobioloog prof Anusuya Chinsamy-Turan te gaan gesels.

Voor my vertrek draf my jongste nog gou kamer toe om haar kopie van Chinsamy-Turan se Famous Dinosaurs of Africa (2008) te gaan haal. Sodat ek ‘n handtekening voorin kan vra, nogal! Want toe ek vroeër vir my ses- en negejarige dogters vertel met wie ek dié dag sou gesels, was hulle selfs beïndruk met my! Dié boek wat vertel oor by die 30 oerreptielsoorte wat al in Afrika uitgegrawe is, gaan gereeld skool toe as dinosourusse deel van die lesplan is.

Gewoonlik as ek met ‘n wetenskaplike gaan gesels vir ‘n skryfprojek, gly-gly ek oor die feite om vir my kinders te verduidelik watter werk dié of daai persoon doen. Oor ‘n genetikus sal ek sê “die oom kyk na baie fyn deeltjies van jou lyf want hy wil weet hoekom sekere mense sekere siektes kry” of oor ‘n polimeerwetenskaplike dat “die tannie probeer om nuwe plastiekmateriaal te maak”. Dis baie makliker as om te verduidelik hoe die familiêre verwantskap tussen sekere siektes werk, of die dinamika agter mensgemaakte materiale en chemiese stowwe.

Almal wéét egter van dinosourusse. Al het die laastes 65 miljoen jaar gelede uitgesterf, is hulle wetenskap se kultushelde.

***
Kleintyd was haar seuns se maats baie opgewonde om haar te kon ontmoet. En ja, sy kry dino-prentjies en briefies van jong bewonderaars.

Dit vertel Chinsamy-Turan toe ons uiteindelik met ‘n koppie tee in haar oranje sitkamer in Rondebosch gesels. Haar handtekening is reeds uitgedeel, en ek maak ‘n nota om ook haar nuutste boek, Fossils for Africa (2014) vir my kinders te soek.

Ons gesels oor hoe sy ontwikkel het vanaf ‘n student wat in haar skoolhoof-pa se voetspore wou volg tot ‘n gerekende navorser wat graag én gemaklik haar gehalte-bevindinge aan Jan Publiek oordra. Einde verlede jaar het Suid-Afrika se nasionale akademie vir wetenskap, die Academy of Science of South Africa (ASSAf), haar juis met hul Science-for-Society Goue Medalje vereer vir die  wyse waarop sy “uitstaande wetenskaplike denke toepas in diens van die gemeenskap.”

Ons ontmoetingsplek moes skuif vanaf kampus na haar huis, want dis die eerste dag van die #Feesmustfall-proteste by Ikeys. Die middag se praktiese klasse is afgestel. Haar oudste seun, ‘n eerstejaar ingenieurstudent, kom saam met ‘n besonderse lang vriend verby, vermoedelik al agter die geur van varsgebakte muffins aan. Later kom die jongste rugsak oor die skouer tuis, sy eerste dag terug op ‘n Suid-Afrikaanse skoolbank na ‘n maand se uitruilstudies in Amerika.

So in haar huis, sonder anatomiese sketse of fossiele wat mens wéét in haar kantoor te vinde moet wees, is Chinsamy-Turan byna enige ma. En ‘n eggenoot wat sê die gewaardeerde ondersteuning van haar man gee haar moed vir die talle uitdagings wat sy met soveel deeglikheid aanvat. Dié skrywer van vier boeke is kreatief-handvaardig en lief vir fotografie. So ontlaai sy van die werksdruk wat gepaardgaan met onder meer die hoofskap van die UK se Departement Biologiese Wetenskappe en raadslid wees van die Amerikaanse Jurassic Stigting.

In oranje-wit-en-pers kan mens haar nie sien in die khaki-en-breërandhoeduniform wat byvoorbeeld Lee Berger van Homo Naledi-faam kenmerk nie. Berger ondersoek as paleo-antropoloog mensverwante oorskot. Chinsamy-Turan daarinteen is ‘n paleobioloog. Dit beteken sy bestudeer eerder dinosourus- en ander gebeentes van uitgestorwe diere.

‘n Joernalis het geskryf dat Chinsamy-Turan se werk bietjie soos “CSI forensics meets Jurassic Park” is. Want vir haar gaan dit oor meer as net hoe fossielbene lyk, of hoe groot en swaar die dier was wat eens op aarde geleef het. Met haar mikroskoop “lees” sy deeglik die binnekante van hul bene, en kyk watter detail hul mikrostruktuur verklap. Sy wil vasstel of hulle besonders vinnig gegroei het, of hulle dalk siek was, en wat doerietyd se omgewingsfaktore was.

Sy help dikwels kollegas van regoor die wêreld as hulle besig is met die uitgrawing en die identifikasie van ‘n nuwe spesie. Sy vind wetenskaplike “vleis” en feite in die detail van hierdie fossiele.

“Elkeen het ‘n storie wat mens moet kan verduidelik,” glo Chinsamy-Turan, wat onder meer die Shoprite/Checkers Vrou van die Jaar-toekenning, die Departement Wetenskap en Tegnologie se Top Vroue Wetenskaplike-prys en ‘n eerbewys van die World Academy of Science (TWAS) agter haar naam skryf.

So het sy laasjaar saam met ander kenners bekend gemaak dat sommige dinosourusse beeninfeksies gehad het, en ander weer gely het aan osteoporose – ja, daardie toestand van verbrokkelende bene wat met ouer vroue geassosieer word.

Sy’t ‘n sagte plekkie vir vlieëende pterosaurusse, waarvan sommige so groot soos vandag se vegvliegtuie was! Dis in dié veld waarin sy haar eerste dino-voetspore gelos het toe sy in die 1980’s nagraadse studies aan Wits en later Pennsylvania Universiteit aangepak het. Verlede jaar was sy weer deel van ‘n internasionale span wat ‘n nuwe spesie aan die wêreld bekendgestel het – ‘n 125 miljoen-jaar oue geveerde dinosourus uit China, Changyuraptor yangi.

“As jy weet hoe normaal (in terme van bene) lyk, is dit maklik om abnormaal te herken as jy dit sien,” dans sy ligweg oor die moeilikheidsgraad van haar werk.

***

Op pad huis toe is dit ek en die N1-middagverkeer. Die Famous Dinosaurs of Africa-boek lê op die passasiersitplek. Ek loerlees op die agterblad hoe Noord-Afrika eens die tuiste was van Carcharodontosaurus, teen 7 ton die grootste vleisetende dinosourus ooit. “’Sy naam beteken dis ‘n ‘n grote met skerp saagtande, want ‘donto’ beteken ‘tande’,” lê my Latynse onderwyseres-ma Ou Haaitand se wetenskaplike naam uit toe ek haar later daarna vra. En voeg by: “Nie ‘n dinosourus wat mens graag sou wou ontmoet nie!”

Engela Duvenage

Co-founder of SciBraai.co.za. Day job: Science writer and science communicator who loves turning research papers into news stories. Claim to fame: mother of two daughters; winner of the Izethelo Award for Outstanding Journalism (2016) from the South African fruit industry, and winner of the best technical article award (2016) as presented by the South African Agricultural Writers' Association Background: MPhil (Journalism, specialising in science journalism) and HonsBA (Psychology).

More Posts

Follow Me:
Twitter