Biology & Evolution

Namakwaland toe met ‘n Wellingtonse kinkel

Gorteria_diffusa_MS_9422Koeranteberigte oor die komende blomseisoen in Namakwaland herinner my toe weer aan ‘n saaklike onderskrif en foto wat onlangs in die Paarl Post verskyn het. Onder die foto van ‘n jong man in ‘n rooi toga staan daar: “Marinus de Jager het onlangs sy doktorsgraad in plantkunde aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Hy is ‘n oudleerling van Hugenote Hoërskool.”

“Ai, shame”, dink ek, “die korte onderskrif sê nie eens waaroor dié Wellingtonner se doktorsgraad gegaan het nie (die kewer-madeliefie Gorteria diffusa wat jy in Namakwaland en die Klein Karoo kry, en haar verhouding met die madeliefie-byevlieg Megapalpus capensis). En dit vertel niks van die jare se deursettingsvermoë en bloedsweet, wat so tipies is van nagraadse studies en wat nodig was om sy kwalifikasie te verwerf nie!

Ek weet toevallig dat sy studies dikwels letterlik met sweet gepaard gegaan het. Hy het ure in ‘n lapboks van 1x1x1m deurgebring om te kyk hoe die bye reageer op hy verskillende proefnemings wat hy opgestel het. So ‘n skuiling is nie die ideale uithangplek vir ‘n man van ‘n gawe lengte nie! Hopelik het sy ervaring Bolandse somers hom darem teen die Noord-Kaapse son help staal. Sy studies het dié voormalige Hugenoter darem ook sy vlerke laat sprei na onder meer Cambridge Universiteit, en het aan hom toekennings besorg.

Lank voor Marinus “doktor” voor sy naam kon skryf, het sy studieleier, dr. Allan Ellis van die Universiteit Stellenbosch se Departement Plant- en Dierkunde vasgestel dat dieselfde kewermadeliefie op 20 verskillende maniere kan lyk. Die variasies kom streekspesifiek voor, met Garies, Okiep en Nieuwoudtville wat onder meer spog met hul eie weergawe van dié groterige madeliefie. Die verskillende variasies wissel nie net in blomvorm en in kleure tussen oranje, geel en wit nie, maar vyf van die soorte pronk met blinkerige swart merke op hul blomblare.

Daar is vasgestel dat die merke g’n net daar vir versiering is nie, maar eintlik ‘n slinkse manier is om die byevlieë te lok sodat die plant bestuif kan word. Die byevlieg is ‘n algemene besoeker van Namakwaland se blomme, maar is omtrent die enigste insek wat die kewermadeliefie bestuif.

Marinus-de-jager1

Die merke is al die tyd ‘n manier om arme manlike byevlieë te fop, want dit lyk vir hulle op die oog af soos ‘n wyfie waarmee hulle kan paar. (Ja, byevlieë sien gewis nie te goed nie!) Teen die tyd dat ‘n mannetjie uitvind hy’s om die bos gelei, sit daar al genoeg stuifmeel aan sy lyfie vas wat hy dan na ‘n volgende blom (of, volgens wat hy sien, ‘n volgende “wyfie”) kan oordra.

Die bevindinge oor hierdie slinkse manoeuver het in van die wêreld se toonaangewende wetenskapstydskrifte verskyn, aangesien hierdie seksuele verneukspel tussen plante en hulle moontlike bestuiwers voorheen nog net by orgideëspesies waargeneem is.

Marinus het met geduldige speur- en  navorsingswerk vir sy doktorsgraad dr. Ellis se ontdekkings selfs nog verder gevat. Hy het vasgestel dat byevliegmannetjies en -wyfies se smaak definitief verskil as dit by die swart blomkolle kom. Die wyfies verkies blomvorme met meer eenvoudige swart kolle daarop, terwyl die mannetjies ‘n voorkeur het vir blinkerige kolle met ligte ultraviolet merkies of effe opgehewe spikkels daarop. Vir hulle lyk hierdie spikkels soos die wit kolletjies wat ook op ‘n byevlieg-wyfie se lyfie voorkom. (Ja, dit bewys net weer dat vlieë nie goed sien nie! Of beslis die wêreld ander sien as die gewone menslike oog!)

Die verskil in voorkeure tussen die geslagte het nie net by sigwaarde gebly nie. Tipies vrou word die wyfies maklik aangetrek deur die madeliefies se geur, terwyl ‘n lekkerruik-ietsie skynbaar geen impak op die mannetjies se voorkeure gehad het oor watter blomme hulle eerder besoek nie.

Marinus raai dat al die verskillende soorte blomvorme ontwikkel het om te verseker dat soveel moontlik byevlieë die kewer-madeliefies besoek, ongeag die geslag van die vlieg. So word verseker dat bestuiwing plaasvind en dat daar dus daar genoeg saad van hierdie eenjarige plant beskikbaar is om volgende lente weer vir ‘n Namakwalandse skouspel te help sorg!

Kan jy net dink hoeveel ure in ‘n boks aan’t bye-en-blomme kyk dit gekos het om al hierdie dinge uit te vind? Sjoe! Alles deel van ‘n dag in ‘n navorser se lewe.

Originally published in the Paarl Post community newspaper, July 2013.

Related posts

Kathu ‘reuse-fabriek’ vir klipgereedskap

Elsabé Brits

Everything’s coming up geraniums

Sarah Wild

Species without boundaries: a new way to map our origins

AdminBraai

Oplossing gesoek vir siekte wat broodbome laat vrek

Elsabé Brits

Namaqualand’s long-tongued flies all pumped up

Engela Duvenage