
deur Eleanor Botes
Ry ‘n mens deur die Karoo-dorpie Laingsburg op die N1, val die groot, wit letters teen die koppie dadelik op: Van kilometers ver kan mens dit geskryf sien staan: “LAINGSBURG” en daarlangs “DRA WOL”. Laasgenoemde is nie die naam van ‘n plaaslike woonbuurt nie, maar al jare lank ‘n mooi advertensie wat sê dat wol ‘n baie goeie kledingstof is. Dis gemaklik, absorberend, wasbaar, het min stryk nodig en is ‘n natuurlike, omgewingsvriendelike produk.
Dié woorde is in 1963 op die koppie aangebring deur die Nasionale Wolkwekersvereniging en die plaaslike Landbouvereniging tydens ‘n groot Merino Wolfees wat op Laingsburg en op ander dorpe in die land gehou is.
Die Merino is die grootste skaapras in Suid-Afrika wat wol én vleis produseer. Stuart Beverage van WFSMB sê: “Merinowol is, sonder twyfel, die mees veelsydige vesel in die wêreld – en dan’s dit nog ‘n natuurlike vesel daarby!”
Merino’s kom oorspronklik van Spanje af. Die eerste Merinoskape het in 1789 na Suid Afrika gekom en oor die jare is die ras verbeter. In 1937 is Merino SA gestig om as forum vir telers en kommersiële Merino boere te dien ten opsigte van teling, kwaliteit beheer, promosie en administrasie.
Om die 225ste herdenking van die eerste Merinoskape in Suid-Afrika te herdenk, vind daar van 29 April tot 1 Mei vanjaar ‘n besonderse saamtrek plaas wanneer kenners van regoor die wêreld saamtrek vir die 9de Wêreld Merino Konferensie op Stellenbosch. Die jongste internasionale navorsing sal onder meer bespreek word, terwyl die plaaslike industrie ook onder die vergrootglas geplaas sal word.
Vir meer inligting oor die konferensie, besoek http://www.merino2014.com/conference.html. Vir inligting oor plaasvakansies op Laingsburg, besoek www.infolaingsburg.co.za
Het jy geweet?
* Die Dohne Merino is sowat 70 jaar gelede ontwikkel op die Dohne Landbounavorsingstasie in die Oos-Kaap.
* Die SA Vleismerino het sy oorsprong uit die Duitse Vleismerino, en lewer hoë kwaliteit vleis en wol.
* Die Afrino is ‘n geharde skaap wat geteel is uit die Merino, die SA Vleismerino en die inheemse Ronderib Afrikaner. Dis sowat 40 jaar gelede geteel in die Wes-Karoo, en is besonders geskik vir droë gebiede.
Bron: www.merino2014.com