Skilder met ‘n kop vir sake

Mikrobioloog prof. Leon Dicks bedryf sy navorsing aan die hand van ‘n besigheidsplan. Want eendag wil hy voltyds skilder.

Die probiotikum entiro™ wat in sy laboratorium in die Departement Mikrobiologie aan die Universiteit Stellenbosch ontwikkel is, het hom al regoor Suid-Afrika tot in Spanje geneem as deel van die farmaseutiese maatskappy Cipla Medpro se bemarkingsveldtog daarvan onder dokters en aptekers.

Al vat dit ‘n hap uit sy dagboek, geniet hy dit gate uit om ten nouste betrokke te wees by die volle ontwikkelingsproses van dié produk wat ekstra beskerming aan die spysverteringstelsel bied – van die aanvanklike ontwikkeling en verdere verfyning daarvan tot onderhandelinge met patenteprokureurs, insette by die verpakking en die verdere bemarking.

Prof. Leon Dicks agter sy esel in sy gesinskamer.

Prof. Leon Dicks agter sy esel in sy gesinskamer.

Prof. Dicks stap al ‘n lang pad met entiro™ en Cipla Medpro, wat sy navorsing daaroor vir minstens sewe jaar lank befonds het. In 2005 het sy navorsingsgroep die eerste in Suid-Afrika geword om ‘n antimikrobiese peptied van ‘n melksuurbakterie te produseer om in ‘n mediese produk te gebruik.

Daar is reeds twee jaar vroeër begin om stelselmatig meer as 5000 melksuurbakterieë te sif vir enkele stamme wat unieke beskermende eienskappe bevat. Twee “vriendelike” spesies is ontdek wat die boonste en onderste dele van die spysverteringskanaal as geheel dig uitvoer of plavei, en in die proses keer dat patogene op die ingewande se reseptorsetels heg en skade aanrig. Op die koop toe vervaardig dit ook kiemwerende peptiede wat help om skadelike mikrobes te vernietig en so toestande soos diarree  en prikkelbare dermsindroom verminder.

Die produknaam sinspeel nie verniet op die Engelse woorde “intestines”, “interon” en “entirely” nie!

Die ontwikkeling van entiro™ het met ‘n besoek aan die dokter deur sy seun weens oor- en keelprobleme begin, en is die eerste keer op sy skoonma getoets.

Tot dusver het 25 navorsingsartikels al in toonaangewende vaktydskrifte oor entiro™ se twee melksuurbakterieë verskyn, en nòg is op pad. “Dit gee wetenskaplike statuur aan ons produk,” glo prof. Dicks, wat redaksielid is van sewe vaktydskrifte èn daarby agt patente, 167 publikasies en 21 boekhoofstukke op sy kerfstok het.

En as dié lid van die Academy of Science for South Africa (ASSAf) sy sin kan kry, sal hy nog navorsingsgeld wil inspan en selfs dieper delf in die werking van hierdie probiotikum se bestanddele.

Dié 2012-ontvanger van ‘n toekenning deur die Nasionale Wetenskap- en Tegnologieforum (oftewel NSTF) en BHP Billiton erken dat hy ongeduldig kan wees, nie van te veel “red tape” hou nie, en mal is oor konflik. Nie uitbarstings van die skreeuende soort nie, maar eerder konflik wat uitdaag en aanleiding gee tot ander maniere van doen.

“Uit konflik word nuwe idees gebore, veral as die persoon aan die ander kant van die tafel  jou druk en dwing om nie die pad te loop wat jy wil loop nie,” glo prof. Dicks, wie se brein juis dan op alle silinders vuur.

Dié melksuurbakteriespesialis het sy loopbaan as voedselmikrobioloog begin. Hy glo mens moet in die wetenskap by een tema vashaak as jy behoorlik wil fokus en naam maak. Daarom is dit g’n verrassing dat daar in sy laboratorium volstoom gewerk word aan nog verskillende verwante projekte waarin die antimikrobiese eienskappe van entiro™ se peptiede ook ingespan word nie.

So het sy nadoktorale student, dr. Tiaan Heunis, sy PhD-graad in 2012 behaal deur te wys om die peptiede in nanofyn wondmateriaal in te weef om veral sekondêre brandwondinfeksies te bekamp. Nadoktorale genoot dr. Jayesh Ahire van Indië kyk nou of dit ook as ‘n chirurgiese verband vir inwendige operasiesnye ontwikkel kan word.

Doktorale studente Melanie Hattingh en Du Preez van Staden kyk onderskeidelik na ander peptiede se moontlike kankerwerende eienskappe en hul vermoë om die immuunsisteem te stimuleer. Nadoktorale genote dr. Carol van Reenen en dr. Shelly Dean span saam met die ontwikkeling van ander peptiede en die kloning van gene om probiotiese stamme en patogene op te spoor.

Prof. Dicks se lys van idees en projekte om te onderneem bly lank.

Dis alles deel van die doelgerigte besigheidsplan vir sy navorsingsloopbaan wat hy as 21-jarige pasgetroude opgestel het, en waarvolgens hy planmatig werk.

“Oe, ek’s mal oor besigheid en oor geld maak, maar suinig om dit uit te gee,” kom dit grappig.

Sy ideaal is om eendag voltyds te skilder. Tydens sy eerste solo-uitstalling einde verlede jaar is 26 skilderye binne 10 dae verkoop, twintig daarvan aan ʼn oorsese kliënt.

“Deel van my plan is dat ek nou goed genoeg moet word sodat ek op 60 so bekend is dat ek nie sukkel om te verkoop nie,” kom dit van prof. Dicks, wat ‘n skilderhoekie midde-in sy gesinskamer tuis het.

Dié boorling van Port Elizabeth het seker sy besigheidsin so half osmoties by sy ouers gekry, wat onder meer ‘n algemene handelaar en vakansie-akkommodasie in die Oos-Kaap bedryf het. Tog sê hy die spreekwoordelike liggie het eers as nagraadse student by hom aangegaan oor die voordele daarin om navorsing met ‘n industriële, verkoopbare impak te doen.

“Voorgraads is mens net ‘n pop; jy wil net jou graad kry,” lag hy.

Gisspesialis prof. Hennie van Vuuren, wat industriegerigte wynnavorsing aan die US ‘n behoorlike hupstoot gegee het voordat hy na Kanada verhuis het, het baie van sy denke hierin help vorm.

“Ek het hom net dopgehou,” kom dit skalks.

“Hy is baie innoverend en het ‘n geweldige goeie sin vir besigheid ,” onthou prof. Dicks sy destydse MSc-studieleier en PhD-promotor, saam met wie hy in 1983 as meestersgraadstudent van Kovsies na Stellenbosch verskuif het.

Omdat hy die toepassing van navorsing so geniet, gee prof. Dicks graag klas vir derdejaar BSc-studente oor industriële mikrobiologie. “Ek raak soms net te opgewonde as ek klas gee, dan dink die studente seker ek is befoeterd,” kom dit van ’n man met ’n passie vir gehaltewerk én sy vakgebied.

Watter vyfpunt-plan sal hy aan dié einste klas voorhou oor hoe hulle ook innoverende en dinamiese loopbane kan besig?

“Die belangrikste is stabiliteit, want as jy dit nie het in jou rusfase nie, byvoorbeeld tuis, het jy dit ook nie in jou wetenskap nie,” kom dit sonder skroom van prof. Dicks, wie se veilige hawe sy vrou Sarina en drie kinders is.

Hy glo ook mens moet so gou moontlik finansieel onafhanklik raak, ’n finansiële kop binne werksverband kweek en ’n doelgerigte loopbaangerigte besigheidsplan hê.

“Fokus op jou beroep, en as jy in die wetenskaplike rigting gaan, mòèt jy leer innoverend dink,” voeg hy by. “As jy nie weet hoe nie, gesels met iemand of kyk hoe hulle dit doen.”

“Dinge is nie maar toevallig nie, dis bepland,” kom dit beslis.

Vir diegene wat meer wil weet:

Wat is ‘n probiotikum?

Patogene raak deesdae al hoe meer bestand teen die werking van antibiotika. Daarom gebruik mense toenemend probiotika as natuurlike aanvullings wat help met die vestiging van ‘goeie’ of beskermende mikroörganismes in onder meer die lugweg, spysverteringstelsel en genitale weë. Dit onderdruk ook kieme en versterk die immuunstelsel. Die probiotikum entiroTM bestaan uit lewende, sogenaamde ‘vriendelike’ melksuurbakterieë wat heeltyd peptiede vervaardig en patogene kan aanval.

En wat is melksuurbakterieë? En ‘n peptied?

Melksuurbakterieë kom algemeen in die natuur voor en is sogenaamde ‘vriendelike’ of ‘voordelige’ mikrobes.  Sommige melksuurbakterieë produseer antimikrobiese peptiede, wat klein proteïene van 30 tot 40 aminosure lank is. Peptiede onderdruk die groei van ander bakterieë, soos patogene. Hierdie peptiede heg aan bepaalde setels op die patogeen, dring die selmembraan binne en vorm ‘n onherstelbare porie of opening daarin. Anders as by die toediening van antibiotika, herstel die selwand van ’n bakterie wat deur ‘n peptied beskadig is nie weer nie, en word dit uitgewis.

 

Note: This article first appeared in Matieland, the alumni magazine of Stellenbosch University. Click here to read an English version of this article.