Voëls se ‘oerknal’ in reusestudie bepaal

’n Navorser kyk na van die 48 diverse voëlspesies wat in die reuse- genetiese studie betrek is. Foto: AAAS/Carla Schaffer

’n Navorser kyk na van die 48 diverse voëlspesies wat in die reuse- genetiese studie betrek is. Foto: AAAS/Carla Schaffer

Die “oerknal van voël-evolusie” en die beste stamboom nóg van die diere wat oor miljoene jare strek, is pas bekend gemaak.

Honderde navorsers van 20 lande het vier jaar lank gewerk om die genetiese verhaal van­voëls na te vors, wat in ’n spesiale uitgawe van die vaktydskrif Science gepubliseer is.

Hulle het 48 spesies van elke voëllyn se volledige genetiese samestelling gekarteer om die verhaal te vertel van voëls – wat begin gedy het ná die massa-uitwissing van die dinosouriërs 66 miljoen jaar gelede.

Hier is vyf hoogtepunte van die data wat in 28 artikels gepubliseer gaan word:

■ Voëls en mense gebruik min of meer dieselfde gene om te sing en te praat. Die breine van voëls is vergelyk met dié van ses mense wat dit nagelaat het vir wetenskap. Voëls gebruik soveel as 10% van hul gene om in verskille breinareas te kommunikeer.

■ Krokodille is die naaste lewende familielede van voëls en hulle deel ’n gemeenskaplike voorsaat wat 240 miljoen jaar gelede geleef het. Dít was ook die voorsaat van die dinosouriërs. Nadat die dinosouriërs (en talle ander diere) 66 miljoen jaar gelede uitgesterf het, het voëls vinnig en divers ontwikkel uit net ’n paar voëllyne wat dié massa-uitwissing oorleef het. Dít was hul “oerknal van voël-evolusie” en binne 15 miljoen jaar het ’n biodiversiteit van voëls ontwikkel tot die sowat 10 000 spesies wat vandag bestaan.

■ Voëls het hul tande 116 miljoen jaar gelede “verloor”, het die nuwe studie gewys. Alle tandelose gewerweldes stam af van voorsate wat tande (met emalje op) gehad het en dit kan gesien word in die DNS. Die ontwikkeling van ’n snawel en die verlies van tande, spesifiek mutasies wat veroorsaak dat emalje nie meer vervaardig word nie, het gelyk gebeur in die voorsate van voëls, toe ’n horingagtige snawel in die plek van tande gekom het.

■ Flaminke is nader familie aan duiwe as aan pelikane. Roofvoëls is baie divers en nie noodwendig verwant aan mekaar nie, soos valke wat nader verwant is aan papegaaie as aan arende.

■Die volstruis en die hoender is twee van die voëls wat van die oudste oorspronklike genetiese materiaal van die gemeenskaplike voorsaat het. Die hoender is die naaste verwant aan geveerde dinosouriërs.

Hierdie artikel is oorspronklik in Die Burger gepubliseer.

Elsabé Brits

Elsabé Brits is a freelance science and health journalist. She has won several journalism awards during her career which started in 1993. Previously she worked for 21 years for Media24 at Die Burger and Netwerk24.com. She lives in Cape Town. She has written two nonfiction books: One about bipolar disorder (Kyk my in die oë, Tafelberg, 2011) and another about the life of feminist and pacifist Emily Hobhouse (Emily Hobhouse Geliefde Verraaier & Emily Hobhouse Beloved Traitor, 2016, Tafelberg). The latter won three book prizes. Twitter @elsabebrits Email: sciencebrits at mweb.co.za

More Posts

Follow Me:
Twitter