Die kunsprojek waarin inheemse mitologie en verhale oor die kosmos hande vat met die wetenskap, open vandeesweek in die Moederstad.
Die internasionale Square Kilometre Array-projek (SKA) het dié uitstalling op die been gebring en Suid-Afrikaanse en Australiese kunstenaars gevra om met Shared Sky spesifiek die heelal uit te beeld soos inheemse bevolkings dit sien. Dit was verlede jaar in Perth en open Vrydag in die Iziko- Suid-Afrikaanse Nasionale Galery in Tuine.
Tienduisende jaar gelede was mense in verwondering oor die sterre wat in die Karoo en Australiese platteland gesien kon word en verhale het daaroor ontstaan. Nou word die wêreld se grootste teleskoop daar gebou om juis dié vrae te beantwoord.
Die Suid-Afrikaanse kuns is kwilte wat in die Nieu-Bethesda-gemeenskapkunssentrum gemaak is. Dit is geïnspireer deur /Xam-verhale oor die son, maan en sterre. Gedigte en verhale wat opgeteken is in die William Bleek- en Lucy Lloyd-argiewe, soos in die 1800’s deur die Khoisan aan hulle vertel is, word ook uitgestal.
Die inheemse Yamaiji-mense van Wes-Australië het deelgeneem aan die projek en uitgebeeld hoe hulle duisende jare lank die nag ervaar het wanneer hulle opkyk.
Die uitstalling sal tot 31 Mei te sien wees.
Hierdie artikel is oorspronklik gepubliseer op Netwerk24.