Vanjaar 301 jaar gelede is moontlik die vernietigendste epidemie in die geskiedenis van die Kaap hier losgelaat. Veral die Khoi-Khoi is swaar getref toe Nederlandse skepe pokke ongesiens hier aangebring het.
Sondag. 12 Februarie 1713. Nege seilskepe van die Verenigde Oos-Indiese kompanjie gooi anker in Kaapstad-hawe. Ná ‘n seeries van 10 weke van Batavia (vandag Djakarta in Indonesië) is die jaarlikse retoervloot onderweg terug na Amsterdam.
Die dood is ook aan boord.
Die bevelvoerder is admiraal Johannes van Steeland aan boord van die Zandenburg, en die skepe – Barneveld, Donau, Grimmestein, Kockengen, Korssloot, Leidsman, Standvastigheid en Oude Zipje – is gelaai met peper,
“Vandag is die nuus ontvang dat sommige van die oorlewende Kaapse Hottentots, wat van die siekte wou ontsnap deur oor die berge te vlug na ’n ander stam, is allermees deur laasgenoemde doodgemaak – met uitsondering van ’n paar wat weggekom het – uit vrees dat die pokke onder húlle sou uitbreek: ’n strawwe beleid.” – Dagregister van die Kaap de Goede Hoop, 19 Mei 1713.
Teen die tyd wat dié aantekening deur ’n amptenaar gemaak is, was die poke reeds ’n epidemie in Kaapstad – ’n nedersetting met minder as 1 000 wit mense aan die voet van Tafelberg en sowat 1 200 slawe in die dorp.
Prof. Howard Phillips, hoof van historiese studies aan die Universiteit van Kaapstad, vertel dat op 12 Februarie 1713 het nege skepe van die destydse Batavia (vandag Djakarta in Indonesië) in Kaapstad anker gegooi: Barneveld, Donau, Grimmestein, Kockengen, Korssloot, Leidsman, Standvastigheid, Zandenburg en Oude Zipje. Die bevelvoerder was admiraal Johannes van Steeland aan boord van die Zandenburg.
Aan boord was 22 siekes en 50 dooies, sê prof. Kay de Villiers, bekende medikus en kenner van mediese geskiedenis.
Die reis van Batavia na die Kaap het minstens tien weke geduur. Wanneer ’n skip gewaar is, moes ’n vlag gehys en ’n kanonskoot afgevuur word – daarna was daar ’n inspeksie. Dit het nie met dié vloot gebeur nie, en ná ’n dag het die mense aan wal gegaan, skryf die skrywer Dan Sleigh in ’n navorsingstuk.
Die hope vuil wasgoed van die vloot is aan wal gebring en deur slavinne, wat aan die Vereenigde Oost-Indische Compagnie (VOC) behoort het, in die Platteklip-stroom teen Tafelberg gewas.
Maar die siekte het soos ’n veldbrand versprei en byna elke huishouding geraak, sê De Villiers. Ook die Strandlopers is swaar getref en het hulle so te sê uitgewis.
Die virus kan lang tye buite die liggaam leef en word in die lug oorgedra. Binne vier weke – die inkubasie-tydperk – was die eerste mense siek in die slawelosie. Dit “vermeerder tot hertenleed nog dagelijks”.
Dié afgryslike siekte veroorsaak honderde pynlike, swerende blase oor die hele liggaam, koors en ’n onuithoudbare hoofpyn. Selfs in die 20ste eeu is 300 miljoen tot 500 miljoen wêreldwyd daaraan dood.
Tussen 20% en 30% van die slagoffers destyds binne tien dae dood, en dié wat oorleef het, was tot ses weke nog aansteeklik.
Diegene wat dit oorleef het, was immuun, maar teen ’n hoë prys, skryf Phillips in sy boek Plague, Pox and Pandemics. “Mense is met erge littekens gelaat, sommige was blind en onvrugbaar.” Daar was nooit ’n kuur nie, net Edward Jenner se entstof wat in 1796 sy eerste tree gegee het.
Honderde dood
Daar is opgeteken: “Waar mens eens jonges gesien het wat hulself in die strate vermaak, het dit nou doods geword en ’n mens het skaars ’n huis gesien waar die deur nie toegemaak is weens dood of siekte nie.”
Die Khoi-Khoi is in hul “honderde dood en lê oral langs die pad, asof hulle afgemaak is, soos hulle die binneland ingevlug het met hul hutte en vee”.
Volgens navorsing deur prof. Russel Viljoen, hoof van die departement geskiedenis aan Unisa, was die pokke ’n “reuse-terugslag”. “Die gemeenskap en owerhede kon nie die rampspoed hanteer nie. Hospitaal-fasiliteite was heeltemal ontoereikend en as mense eers siek geword het, het hulle min hoop op oorlewing gehad.”
Dit is moeilik om te sê hoeveel van die Khoi-Khoi dood is, maar ’n destydse reisiger, Francois Valentijn, het geskryf dit was “in die honderde”.
Hy het ook opgeskryf die mense het gedink die Nederlanders het hulle getoor of dat dit ’n “bose siekte” is.
Op 9 Januarie word aangeteken dat “een menigte Hottentots dood is”, maar geen amptelike syfers bestaan nie. Baie bekende stamname het egter hierna uit die rekords verdwyn.
Vroeg in 1714 het ’n klompie Khoi-Khoi van Piketberg in die Kaap aangekom en die kommandeur by die Kasteel versoek om nuwe kapteins aan te stel, omdat al vier in hul gebied aan pokke dood is. “Skaars een uit elke tien van hul mense het oorleef,” sê Phillips.
Daar was in 1755 en 1767 weer pokke, en in dié uitbrekings saam is na skatting 2 600 wit mense en slawe dood. “Dit is ’n skokkende sterftesyfer inaggenome daar toe minder as 7 000 mense hier was,” sê Viljoen.
Hierdie keer is streng maatreëls ingestel. ’n Noemenswaardige een was dat mense nie meer klere by mekaar mag geleen het nie – ’n alledaagse gebruik. Kos mog nie meer by begrafnisse voorgesit word nie.
Die Khoi-Khoi wat in 1755 in die dorp oor was, het toe ’n teiken geword. Amptenare het gesê dié vroue het ’n “ongereegelde en vuijle leevenswijse”, en hulle moes werk gaan soek op plase, luidens ’n “placaats” wat uitgereik is. Die meeste mense was ongeletterd en het dus nie die plakkate gelees nie, maar daar is van huis tot huis gegaan – mense is beboet en slawe is geslaan indien hulle nie voorvalle aangemeld het nie.
Viljoen skryf die kerk het net die slawe behandel om te voorkom dat die koloniste siek word.
Khoi-Khoi geknou
Die drie epidemies was een van die groot redes waarom die Khoi-Khoi uiteindelik as bevolkingsgroep swaargekry het, sê Viljoen en Phillips. Die groepe om die dorp en op die Kaapse Vlakte het as homogene groep gedisintegreer; sommige krale en stamme het heeltemal verdwyn. Die pokke, saam met die verlies aan grond en vee, het uiteindelik hiertoe bygedra.
“Hoeveel dood is, is onseker, maar dit was báie. Die pokke kon groepe uitgewis het wat reeds onder druk was, maar op die langer duur was dit ook die verlies aan grond en vee.”
Viljoen sê die pokke het alle vlakke van die Khoi-samelewing geraak – ook die hiërargie. Mense het sonder hul vee en besittings gevlug – en dit verloor.
In 1755 het die Khoi-Khoi in hul honderde voor die pokke gevlug, en trekboere het gou die leë grond beset. Hulle het Backleijplaas by Swellendam, waar dié mense eeue lank gebly het, in 1767 terstond verlaat en kon nie na hul leefstyl terugkeer nie. “Hulle is haweloos, verarm en gemarginaliseerd gelaat in ’n vinnig, veranderende koloniale milieu,” skryf Viljoen.
Miskien het die Khoi-Khoi kamma (water) en boegoe gemeng om hulself gesond te kry, langs die vuur gesit en kyk na die maan en gewonder: Hoekom?
“ . . . meer gehoor om te betreur oor die pokke wat onlangs hier geheers het (al het dit nie heeltemal opgehou nie; in Drakenstein-kolonie word mense nog geraak). Die mielie-oes lê voor en die meerderheid van Hottentots wat voorheen die boere bedien het, is weggeneem . . .” – Dagregister, 28 November 1713
Bronne: Smallpox at the Cape of Good Hope in the Eighteenth Century, R. Ross; Medicine Health and Medical Practice in Precolonial Khoikhoi Society – An Antrophological-historial Perspective, R. Viljoen; Disease and Society – VOC Cape Town, Its People and the Smallpox Epidemics of 1713, 1755 and 1767, R. Viljoen; en Plaque, Pox and Pandemics, H. Phillips.
Elsabé Brits is Die Burger se spesialis-wetenskapjoernalis.