Physics & Engineering Technology & Computer Science

‘n Petrolkop se droom

'n Voorstelling van hoe die Bloodhound daaruit gaan sien. Verskaf deur Siemens
‘n Voorstelling van hoe die Bloodhound daaruit gaan sien. Verskaf deur Siemens

Hier’s ’n storie met woema wat dalk taxibestuurders en die ouens wat dit so geniet om mekaar op straat (wederregterlik) te ‘dice’, sal interesseer. O, en ook al daai ouens (en sommige vrouens) wat onlangs al die pad Noord-Kaap toe is om gedurende die koue van ‘n langnaweek hul ou motors op droë stofpanne te gaan jaag.

In Brittanje is ‘n span ingenieurs en ander tegnoloë deesdae kliphard aan die bou aan ’n supersoniese motor, die Bloodhound SCC. As die ontwerpers daarvan hulle sin kan kry, sal dit in 2016 die wêreldlandspoedrekord kan breek deur teen 1600km/h die sogenaamde Magiese 1000 Myl binne 3,6 sekondes af te lê. Kom ons spaar mekaar die wiskundige berekening of ‘n algebra-les en stem net daaroor saam: dis onaards vinnig! Lag-lag lankal deur die klankgrens.

Daar’s ‘n kinkel in al hierdie berekeninge. Om te kwalifiseer vir ‘n wêreldrekord, moet die Bloodhound dit twee keer binne ‘n uur regkry! So dit beteken blitskar omdraai, sorg dat alles regloop en weer volmaak. Die span in die kuipe sal hul storie moet ken, in ware Grand Prix-styl.

Die voertuig spog met veel meer as net “mags” en ‘n paar indrukwekkende oranje-en-blou strepe langs sy 14m lange sye om dit ‘n petrolkop se droom te maak. Dit gaan meer as 7,5 ton weeg, en sy enjins sal met tot 135 000 perdekrag spog. Dis gelyk aan die krag van 180 Formule 1 motors tesame! Daar word tans woes daaraan in Bristol in Engeland gebou.

Voertuig- en vliegtuigtegnologie word in die vervaardigingsproses daarvan gekombineer. Die kar se voorkant bestaan uit soortgelyke veselglas as dié van ‘n renmotor, terwyl die agterste helfte vervaardig word uit ‘n metaalraam en –panele soos dié van ‘n vliegtuig. Dan spog dit ook nog met ‘n EJ200 Eurofighter vegvliegtuigenjin (wat op sy eie die kar tot 400 km/h kan laat jaag) en ‘n Falcon hibriede vuurpylaandrywing. Genoeg om my petrolkoplose kop te laat tol! Gaan loer bietjie op YouTube vir videos oor presies hoe dinge vorder, en hoe daar gejaag gaan word.

Bloodhound sal bestuur word deur Andy Green, wat in 1997 ook agter die stuur was toe Brittanje ook die huidige landspoedrekord van 1149.30km/h opgestel het. Hy was ook die eerste persoon ooit wat ‘n voertuig (nie ‘n vliegtuig nie) deur die klankgrens bestuur het. Dus kén hy spoed. Bloodhound se stuurwiel is enige Playstation- of Wii-speler se droom, en word spesifiek volgens Green se handgrootte en –gebruik gebou.

Die verskil tussen die Bloodhound-bestuurder en die meeste “dicers” is egter dat die Britse voertuig tot maksimum veiligheidstandaarde ontwerp word. En dis nou waar die Suid-Afrikaanse konneksie met hierdie storie bykom.

Geen ander voertuig (veral nie aankomendes) sal op die baan by Hakskeenpan in die Noord-Kaap toegelaat word wanneer die Britte in 2015 begin om die motor deur sy passies te sit nie. Kan jy net dink wat kan gebeur as dinge teen daai spoed verkeerd loop!?

Hakskeenpan lê naby die klein dorpies Mier en Askam in die Noord-Kaap. Die ouens wat aan die Kalahari Speedweek deelgeneem het, sal vir jou vertel die wêreld is plat daar. Tog word geen moeite ontsien om die pan selfs nog platter te maak nie! Elke liewe klippie moontlik word die afgelope paar maande opgetel om die ryery so glad en supersonies vinnig as moontlik te laat verloop. Dié poging alleen is so groots (tot 6000 ton klippe is al verwyder) dat daar hopelik eersdaags ‘n heel ander soort rekord eerste agter die Bloodhound-projek se naam sal staan – as die grootste klipoptelpoging in die Guinness Book of Records.

Die Bloodhound is nie net ’n grootse tentoonstelling van Britse ontwerp, ingenieursvermoë en natuurlik ook bestuursvernuf nie, maar wil supersoniese spoed gebruik om vir jongmense aan te vuur tot ’n belangstelling in wetenskap en ingenieurswese. Daarom is daar nie net Bloodhound opvoedkundige spanne wat in Brittanje skole besoek om kinders oor die fisika van spoed en aerodinamika te leer nie, maar ook hier in Suid-Afrika. En hulle nooi soveel skole moontlik om as Bloodhound-skole aan te sluit en te deel in die opwinding daarvan.

Daarby is die projek nog so te sê mededeelsaam ook. Al die inligting wat ingesamel word en al die ontwerpe en planne wat gemaak word, word op hul webblad www.bloodhoundscc.com gedeel. Gratis. Verniet. Ja, seker selfs dus vir die nuuskierige oë van hul handvol mededingers wat ook die volgende landspoedrekord najaag.

Dalk’s daai webblad net die plek om te gaan loer vir inspirasie as jy hierdie naweek lus het om self weer bietjie onder die enjinkap van jou kar te gaan loer, om jou vuurwa meer woema te gee.

Related posts

Rugby in die ruimte

Engela Duvenage

Between science and society: Northern Cape communities struggle with the telescope in their backyards

Paul Kennedy

IBM research lab to work with the cool kids

Sarah Wild

Invitations are out for early childhood development hackathon

AdminBraai

How we know the cables won’t snap

Anina Mumm

The battle of Majuba goes underground

Sarah Wild