Human & Social

Koskultuur-navorsing uit eie bodem

Die 85-jarige koskultuurkenner Renata Coetzee word beskou as die pionier as dit kom by die navors en opskryf van Suider-Afrika se koskultuur. Sy’s ‘n opgeleide voedingskundige, en het op haar dag by die 250 000 kultuursensitiewe maaltye beplan vir diegene wat by Anglo American se myne gewerk het. Sy’t al vir Nelson Mandela gekook en het ook ‘n restaurant in die Kasteel aan die voete van Tafelberg bedryf.

RenataCoetzee2Vandag is ons ‘n groepie saam binne die Volksmond Restaurant van die Afrikaanse Taalmonument, besig om te luister na haar. Dis van daardie besonderse blou-groen-geel Bolandse lentedae. Mens kan sonder ‘n verkyker oor die Kaapse Vlakte kyk tot by Tafelberg. Bietoubosse staan al in blom, en toeriste hou piekniek buite in die son.

Coetzee vertel oor haar jongste boek A feast from nature: food culture of the first humans on Planet Earth. Dit gee weer hoe die oermense dit reggekry het om aan die suidpunt van Afrika te oorleef, en ook watter diere en plante die latere Khoi en San geëet het.  Sy trek in die ryklik geïllustreerde boek haar eie jarelange navorsing asook dié van ander kenners s’n saam oor dié inheemse groepe se kultuur en leefwyse. Sy skryf oor hoe hulle kos voorberei het, en wat alles toentertyd op die spyskaart was.

Om die inhoud van die nuwe boek vir die teenwoordiges ‘n tikkie meer sintuiglike lewe te gee, is die man wat sy hand hou oor die fynboskostuin op Solms-Delta digby Franchhoek byderhand. Johan O’Rayn het potplantjies vol allerlei inheemse plante saamgebring. Hy pluk hier ‘n takkie af en kneus daar ‘n ander een se blaartjie.

Eerste word ‘n kapokbossie of wilde roosmaryn rondgestuur wat die geur van ‘n berguitstappie dra. Dan’s daar ‘n peppermentgegeurde malva met blare so sag soos dié van ‘n kind se geliefde speelgoedteddiebeer. ‘n Suurlemoenboegoe volg waarop van die teenwoordiges met ‘n geloof in die genesende kragte van boegoe wens hulle hul hande kan lê. ‘n Knoffelboegoe wat glo gebruik kan word pleks van die ware Jacob word ook aan geruik, saam met ‘n wildeknoffelplantjie. Rate en resepte word uitgeruil, en notas gemaak.

O’Rayn vertel dat hy reeds sedert die vroeë 1980’s op Solms-Delta werk. Oor die afgelope paar jaar het hy onder meer met Coetzee se hulp die fynboskostuin gevestig. Sjef Shaun Schoeman eksperimenteer lekker met van die plante wat nou daarin groei, om die palet van besoekers aan die plaas se restaurant te verbreed. Prof Mark Solms, mede-eienaar van die plaas en akademikus in eie reg, het al heelwat gedoen om die publikasie van Coetzee se boeke moontlik te maak.

Coetzee se navorsingswerk is al vereer met onder meer ‘n ere-doktorsgraad van haar alma mater, die Noordwes Universiteit, asook ‘n kanseliersmedalje van die Universiteit van Pretoria. Haar naam duik gereeld op in onderhoude wanneer ander veel jonger kosmense gepols word oor wie hul bron van inspirasie is.

Deur die loop van die oggend vertel Coetzee hoe sy jare terug, aan die studeer in die VSA, vir die eerste keer werklik besef het dat Suider-Afrika se koskultuur net so uniek is soos enige ander streek s’n. En dat dit iets is om op trots te wees. So het sy aan die skryf geraak. Sy vertel van hoevele oproepe oor die jare heen om haar te bedank dat sy uitlig hoe besonders ook Suid-Afrika se eie kookkuns is.

Haar eerste boek, Vir  Spys en Drank, het in 1977 verskyn, en is in 2013 weer opdateer. Dit fokus op die mense wat tussen 1652 en 1800 aan die Kaap gelewe het – en wat hulle geëet en gedrink het. Die navorsingswerk wat sy as lektor by Tukkies kon doen, het in 1983 gelei tot Funa – Food from Africa, oor die eetgewoontes van verskillend swart etniese groepe. In 1994 het Cost-conscious Creative Catering gevolg. Sedert haar aftrede het sy grootskaals begin navorsing doen oor veral die Khoi-kultuur, en dit het uiteindelik in 2009 geleiCoetzeeboek tot Koekemakranka – Khoi-Khoin-Kultuurgoed en Kom-Kuier-Kos. In dié boek, wat ‘n jaar later ook in Engels uitgegee is, verskaf sy heelwat resepe (soos sy verkies om te sê) oor hoe mens vandag weer inheemse plante in jou kos kan gebruik.

Hmmm, dalk’s ‘n paar spekboomblare net die ding om ‘n vars lenteslaaitjie mee op te kikker? Of ‘n paar boegoeblare saam met rooiwyn om ‘n skaapboudsousie te maak? Of wat van ‘n veldplant-ontbytsap met rooibos- of heuningbostee as basis, waarby onder meer wildepruim, skilpadbessie of balderja-kruie gevoeg word na smaak? Dit kan mos lafenis vir die volgende piekniek wees! Of wat van daai peppermintmalvablare vir ‘n poeding? Nou praat jy!

* ‘n Weergawe hiervan het in die Paarl Post verskyn.

 

 

Related posts

Join the Data Quest to tell science stories with SA data

AdminBraai

Dinosourusse brul in die Kaap

Elsabé Brits

Tanzanian water filter takes top innovation prize

Paul Kennedy

Friday round-up on crowdCaster

AdminBraai

Mitologie en wetenskap vat hande

Elsabé Brits

What price a peek at the galaxy?

Sarah Wild