Dis aan dr Woody Cotterill se hande waaraan ek dink toe ek lees dat hy saam met navorsers van die Universiteit Stellenbosch (US) en hul internasionale vennote R9.7 miljoen se befondsingsgeld van die Volkswagen Stigting gekry het.
Dié evolusionêre bioloog gaan saam met biochemikus prof Dirk Bellstedt en spesialiste in Duitsland en Afrika saamspan om ‘n “radikaal nuwe benadering” te ontwikkel om die evolusie van die Afrika kontinent oor die afgelope 20 miljoen jaar te verstaan. Hulle gaan dit doen deur volgende generasie DNS-opeenvolging van visgroepe (soos Afrika se bekende cichlidae-visse) te kombineer met die presiese datering van hoof landvorme.
Dié navorsingskonsep gaan getoets word oor ’n area van 300 000 km2 in die noorde van Zambië en die suidoostelike Katangaprovinsie van die Demokratiese Republiek van die Kongo. Hierdie streek is wêreldbekend vir sy ryke verskeidenheid van visse, en het oor die miljoene jare heen heelwat verander weens geologiese aktiwiteite en skuiwe in die oppervlak.
Dit het in sommige riviere geologiese knakpunte veroorsaak. So is watervalle van tot 30 meter hoog en 100 wyd gevorm. Dit het so te sê die pad van voorouerlike visspesies versper en gekeer dat hulle op- en af met riviere kon versprei. In die proses, oor die millennia heen, het visse in die waterpoele bo- en onder van die geografiese versperring uniek begin ontwikkel en het nuwe spesies so ontstaan het.
Maar terug by dr Cotterill se hande: ek onthou ‘n keer wat ons gesels het oor ‘n navorsingsprojek oor tiervisse waarby hy betrokke was, en hoe dié superroofvisse se DNA ook ‘n kykie gee oor Afrika se geologiese geskiedenis. Dit het seker die grondslag gegee vir die huidige studie, as ek ‘n ingeligte raaiskoot moet vat. In 2012 was Cotterill ook van die wetenskaplikes wat gehelp het met die beskrywing van vier nuwe soorte vlermuise in Oos- en Suider-Afrika.
So met die gesels wys hy my toe sy hande. Die naels en tande van die verskillende kreature wat hy al moes vang terwyl hy besig is met navorsing het, het duidelike littekens daarop gelaat. En ek onthou goed hoe ek vir myself gesê het: “Hier’s ‘n man wat werklik ‘hands-on’ is as dit by sy navorsing kom, en nie net agter sy rekenaar oorsigstudies bymekaarslaan nie!”
Die kans is goed dat hy in die afgelope maand of wat nog ‘n paar sulke letsels opgedoen het. Hy’t saam met ‘n Duitse viskundige en ‘n span geoloë die studiearea van die nuwe projek besoek om bo en onder spesifieke watervalle klippe en visse te versamel.
In die US-persverklaring sê dr. Cotterill hulle hoop dat die resultate van die projek meer lig sal werp op hoe en wanneer die oppervlak van hierdie deel van die Afrika- kontinent ontwikkel het: “Ons kennis van die tempo en wyses waarop landskapsveranderinge plaasvind, is verrassend onvolledig.”
Hy reken ‘n meer gedetailleerde kennis van landskapsevolusie sal help om palaeo-omgewings (dus, die oerlandskap) te rekonstrueer. “Hierdie kennis is ook onderliggend tot navorsing wat vorige en toekomstige klimaat en biodiversiteitsdinamika beter verstaan,” verduidelik hy.
In die US-persverklaring verduidelik prof. Bellstedt: “Varswatervisse is vasgevang in ’n landskap wat hul ekologie en evolusie beperk. Met ander woorde, hul bestaan en verspreiding is totaal afhanklik van die heersende dreineringspatrone. Daar is dus ’n sterk verband tussen die geringste veranderinge in visse se fisiese omgewing en hul evolusionêre geskiedenis.
“Sekere hoof landvorme – soos watervalle en hoë plato’s – het die evolusionêre geskiedenis van verskeie visgroepe in Afrika bepaal. Indien ons hierdie inligting met presiese datering van die rotse kombineer, behoort ons die geskiedenis van die landskap van wanneer sekere landvorme gevorm is, te kan herkonstrueer.”
Prof. Bellstedt sê die projek is ’n goeie voorbeeld van hoe mens nuutste spesialiskennis in die biologiese en aardwetenskappe bymekaar kan voeg tot ‘n groter projek: “Aan die een kant gebruik ons die nuutste analitiese metodes in biologie om die genomiese rekord van lewendige spesies te ondersoek ten einde die landvorms waar hulle geëvolueer het, te dateer. Aan die ander kant sal die geochronologiese datering van bestaande rotse aandui wanneer die landskap verander en derhalwe die DNS rekord van die visse beïnvloed het.”
Ja-nee, wie’t nou gedink visse kan ons iets oor geologie leer! Maar dis juis hierdie “buite-die-boks” aanslag wat daarvoor gesorg het dat die Volkswagen Stigting se‘Off the Beaten Track’ befondsinginisiatief belang gestel het in die projek. Dit finansier juis innoverende, buitengewone navorsingsprojekte wat oor vakdissiplines heen strek. Om vir hierdie navorsingsfondse in aanmerking te kom, moet projekte in hierdie kategorie aan streng vereistes van wetenskaplike uitnemendheid voldoen.