Human & Social

Oor voedselwetenskaplikes, grondboontjiebotter en Chappies

chappiesVoedselwetenskaplikes is beslis een groep navorsers en ontwikkelaars wat met hul kos kan én mag speel.

As deel van hul dagtaak ontwikkel sommiges proe-proe en roer-roer aan nuwe kossoorte, smake en kombinasies van joghurts, koeldranke of gekrummelde vis. Noem maar op – die meeste ingemaakte, geproduseerde of verwerkte produkte wat jy op die winkelrakke sien, het seker een of ander tyd verby die wakende oog van ‘n voedselwetenskaplike gekom wat dit óf ontwikkel het, óf help standariseer het óf betrokke is by gereelde gehalteversekering.

‘n Boekie kom onlangs deur die pos, al die pad van Duitsland af, met verskeie rubrieke geskryf deur twee voedselwetenskaplikes, Richard Hartel en Annakate Hartel, vir The Capital Times koerant in Amerika.

In wese is die Hartels se Food Bites: The science of the foods we eat die stories agter die ontwikkeling van verskeie eetgoed, soos hol sjokolade Paashase, roomys en Oreos koekies. Hulle vertel ook oor die prosesse wat gebruik word om appels tot ‘n volgende seisoen te stoor, die nuwe verpakkingsmateriaal en maniere van preservering wat voedelwetenskaplikes se verbeeldingrykheid vrye teuels gee, en hoekom gesnyde uie jou oë laat traan.

So kom ek ook af op die mooi storie oor die ontwikkeling van grondboontjiebotter – deesdae die stapelvoedsel van menige terug-skool-toe broodjie, en van menige Suid-Afrikaanse voedingskema juis omdat dit so voedsaam is.

Dit is glo ontwikkel deur ‘n Amerikaanse dokter van Saint Louis, wat op soek was na ‘n voedsame proteïenryke happie wat darem geëet kon word deur sy pasiënte met slegte (of geen) tande nie. Baie van sy pasiënte, veral die ouer garde, kon nie meer kou aan grondboontjies nie. Toe maal hy dit en voeg ‘n bietjie sout by!

Dus was ‘n haasbek darem iewers in die lewe vir iemand ‘n inspirasie!

Die boekie laat my toe begin dink oor die vervaardiging van Suid-Afrikaanse soetgoed- en peuselgoed.

Wat weet jy byvoorbeeld oor Chappies, seker een van Suid-Afrika se mees ikoniese lekkergoed? En ‘n kouding wat boonop nog vir breinkos ook sorg?

Wel, dis in die laat 1940’s in Johannesburg ontwikkel onder leiding van Arthur Ginsburg, ‘n werknemer van die soetgoedvervaardiger Chapelat. Hy was g’n voedselwetenskaplike nie, maar ‘n kosterekenaar wat later ook hoof van bemarking en verkope geraak. Chapelat (wat later deur Cadbury’s oorgeneem is) was ook die eerste om Sunrise Toffees, Frutus en Sweetie Pies te maak.

Dit was Ginsberg se idee om vier stelle “Did you know?”-vrae binne-in elke Chappies-papiertjie te laat druk. En so staan daar nou al jare lank daarop ‘n reeks van interessante/bisare/ongewone/geskiedkundige feite geskryf. Net sulke een-sin brokkies, en almal begin met die vraag: “Did you know?” ‘n Hoogs onweerstaanbare vraag vir feitevrate en een wat Chappies se skrywers gewoonlik in een bondige sin vir mens antwoord.

Deesdae hou Chappies ook by met modern tendense. So kan mens deesdae jou dosis “Did you know” vrae inkry deur bloot die twiets van @ChappiesBBBgum te volg op die sosiale media platform Twitter – en dit sonder om eens ‘n borrelgompie in die mond te hoef steek of futiel te probeer om ‘n borrel te blaas!

 

Related posts

See the Bloodhound SSC in Pretoria before record attempt

AdminBraai

Malnutrition rises despite social grants

Sarah Wild

[New study] SA Super Rugby teams clocked up more kilometers

Engela Duvenage

Birdie num num: Stone Age people loved it too

Engela Duvenage

Petrol prices and petrol-free cars

The Science Inside

Join the Data Quest to tell science stories with SA data

AdminBraai