
Die weefsel van gestroopte renosters lê ’n vrieskas vol en duisende dooies se inligting word gehou in lêers wat rye kaste vol staan.
En nuwe pakkies weefsel daag byna daagliks by die genetika-laboratorium van die Universiteit van Pretoria se fakulteit veeartsenykunde in Onderstepoort op.
Dit is forensiese materiaal en word as bewysstukke gehanteer. Elke dooie renoster is soos ’n “misdaadslagoffer” met sy eie nommer.
Dr. Cindy Harper, genetikus, verduidelik dat hulle die genetiese materiaal hou van 13 000 renosters, waarvan 2 000 dié van gestroopte diere is.
Boere en natuurbewaarders word aangemoedig om genetiese materiaal van lewende diere te stuur sodat dit ook bewaar kan word. As ’n dier dan later gestroop word, kan dit met die karkas en moontlik die horing vergelyk word.
As ’n horing byvoorbeeld in Asië opgespoor word, kan daardie DNS vergelyk word met die karkas en dan word die persoon met die misdaad verbind. Baiekeer word stropers met horings betrap en as die karkas gevind kan word, kan die twee geneties met mekaar verbind word – of dalk met materiaal in die databank.
Lus vir meer? Lees die oospronklike by Netwerk24.