Health & Medical

Sutherland se nuwe ster

Prof Andre van der MerweSutherland in die Karoo het ‘n nuwe ster: uroloog prof. André van der Merwe, leier van die wêreld se heel eerste suksesvolle penisoorplantingsoperasie.

Van die New York Times tot CNN en BBC het al oor dié wêreldeerste berig – een wat aan die ontvanger ‘n volle werkende geslagsorgaan besorg het. Dit beteken dat die man nou weer soos normaal kan urineer én pa word.

Die 21-jarige ontvanger se eie moes twee jaar gelede geamputeer word nadat ‘n lewensbedreigende infeksie ingetree het na afloop van sy tradisionele besnydenisseremonie.

Dr. Van der Merwe en ‘n span dokters van die Universiteit Stellenbosch het die operasie reeds in Desember uitgevoer. Hy is bygestaan deur dr Frank Graewe, hoof van die US se Afdeling Plastiese en Rekonstruktiewe Chirurgie, prof Rafique Moosa, hoof van die FGGW se Departement Geneeskunde, oorplantingskoӧrdineerders, narkotiseurs, teatersusters, ʼn sielkundige, ʼn etiese kenner en ander ondersteuningspersoneel.

Dit het sowat 10 ure geneem om die liggaamsdeel korrek van die ontslape skenker te oes, en nege ure om dit te heg. Sedert die sukses daarvan verlede week op ‘n perskonferensie bekend gemaak is, moes prof. Van der Merwe behoorlik bontstaan om die navrae van joernaliste van alle uithoeke van die wêreld te hanteer. Daarby wil al wat mediese konferensie nou hê dié pa van drie seuns moet as spreker optree.

Die operasie was deel van ʼn proefstudie om ʼn prosedure vir penisoorplantings te ontwikkel wat in ʼn tipiese Suid-Afrikaanse hospitaalteater uitgevoer kan word. Daar is ʼn groot behoefte in Suid-Afrika aan hierdie tipe prosedures aangesien minstens 250 jong mans jaarliks hul penisse verloor as tradisionele besnydenisse verkeerd sou loop.

Die prosedure kan selfs uitgebrei word na mans wat hul penisse verloor het weens kanker of as ʼn laaste opsie vir erge erektiele disfunksie weens die newe-effekte van medikasie.

Prof. Van der Merwe reken die operasie sal ook eendag hoop kan bring vir babaseuntjies wie se besnydenisse weens mediese of geloofsredes soms skeef loop. “Hierdie operasie sal dus ook op hulle gedoen kan word wanneer hulle eendag groot is,” het hy vertel.

Grafika verskaf. Kopiereg Prof Frank R Graewe
Grafika verskaf. Kopiereg Prof Frank R Graewe

Prof. Van der Merwe het as koshuisseun uit Sutherland van 1983 tot 1987 aan Hugenote Hoërskool op Wellington skoolgegaan, in die geselskap van sy ouer broer Cobus. Hy het in 1987 gematrikuleer en was onderhoofseun van die skool. As kranige sportman en diskuskampioen het hy die Westelike Provinsie twee keer in dié velditem verteenwoordig.

Hy het as tiener reeds geweet dat hy medies wil studeer en is Maties toe. “Maar mens weet nie noodwendig op skool al dat jy wil spesialiseer en ‘n uroloog word nie,” vertel hy oor dié wye mediese spesialisasieveld.

Prof. Van der Merwe het onder meer opleiding in Engeland ontvang voordat hy in 2000 na Suid-Afrika teruggekeer het. Vandag is hy ‘n medeprofessor en hoof van die Afdeling Urologie by die Tygerberg-kampus. Hy het reeds ses kwalifikasies agter sy naam. Die mees onlangse daarvan – ‘n MSc in Kliniese Epidemiologie – het hy in Desember ontvang. Hy het ook al ‘n handboek vir uroloë geskryf.

Prof. Van der Merwe vertel dat om  ʼn skenker te vind een van die groot uitdagings van die studie was.

“Die helde in hierdie storie vir my is die skenker en sy familie. Hulle het die lewens van baie mense gered omdat hulle die hart, longe, niere, lewer, vel, korneas en die penis geskenk het,” het prof. Van der Merwe in ‘n persverklaring gesê.

Die beplanningswerk het reeds in 2010 begin. Die tegnieke wat gebruik is is geskoei op dié van die eerste gesigsoorplanting.

Vir meer inligting oor die prosedure, besoek www.sun.ac.za/transplant.

 

Related posts

Ebola in Wes-Kaap ‘is onvermydelik’

Elsabé Brits

#SAscienceHero Lesley Scott wins innovation prize

AdminBraai

The link between asthma, stress and depression among South African kids

AdminBraai

Arts herstel kinders se sig

Elsabé Brits

Cats, pregnancy and the threat of toxoplasmosis

AdminBraai

Fracking in Karoo gets a R108m injection

Sarah Wild