Biology & Evolution

Van vleis kan jy hom min vertel

Korean_BBQ-freshcut-01“Ek eet graag my navorsing,” grinnik prof. Louw Hoffman terwyl hy ‘n reuse salamirol van ‘n rak afhaal in ‘n koelkamer van die Departement Veekundige Wetenskappe.

Neffens dié koelkamer in die Mike de Vriesgebou op die kampus van die Universiteit Stellenbosch is ‘n goedtoegeruste “slaghuis” waar veekunde- en voedselwetenskap studente in praktiese sessies leer om vleis van verskillende diersoorte in spek, salami, polonies en biltong te verwerk. Dié fasiliteit is by die Departement van Gesondheid geregistreer vir die verkoop van vleisprodukte aan die publiek.

Prof. Hoffman is ‘n praktiese man. As sy studente vlakvarke of kolganse moet skiet om nuwe maniere te toets om hierdie toenemende probleemspesies sinvol vir die pot te verwerk, is hy saam in die veld.

Hy verwys nie verniet na homself as “‘n gefrustreerde boer sonder ‘n plaas wat toe maar ‘n akademikus en navorser geword het nie”!

Dié Zimbabwese plaasseun het as Matie ‘n meestersgraad oor die gehalte van varkvleis behaal, voordat ‘n navorsingspos oor varswatervis en akwakultuur-produksiesisteme hom na die Universiteit van Limpopo gelok het en gelei het tot sy PhD oor babers se vleisgehalte.

As enigste wetenskaplike wêreldwyd wat die kwaliteit van wildsvleis uit Afrika navors, fokus prof. Hoffman bykans eksklusief op die faktore wat die vleiskwaliteit beïnvloed van onder meer volstruis, koedoe, vlakvark en krokodil, en voëlwild soos kolganse en tarentale.

“Saam met my navorsingspan neem ons elke aspek van varsvleisproduksie in ag, ‘van die bos tot as kos’ by wyse van spreke,” voeg dié ontvanger van ’n silwer medalje van die Suid-Afrikaanse Veekundevereniging by.

Al het sy navorsingonderwerpe so ’n sterk Afrika en Suid-Afrikaanse fokus, is dit van groot internasionale belang vanweë die toename in die uitvoer van wildsvleis na Europa en ander lande.

“Wildsvleis is besig om al hoe meer gewild te raak onder verbruikers wat gesonder, maerder rooivleisalternatiewe met eiesoortige sensoriese eienskappe soek,” verduidelik hy.

Vir ‘n meer opwindende – en beslis veelbesproke – jaar kon prof. Hoffman tot dusver beswaarlik hoop.

In Januarie het hy die eerste Suid-Afrikaner geword om die gerekende Amerikaanse vereniging vir Vleiskunde (AMSA) se Internasionale Lektoraat-toekenning te ontvang.

In Februarie is die papierwerk uiteindelik uitgeklaar rondom sy aanstelling as bekleër van die SARChI Leerstoel in Vleiskunde: Genomika tot Nutrinomika, in samewerking met die Universiteit van Fort Hare.

In dieselfde maand is bevindinge van ‘n artikel in die internasionale vaktydskrif Food Control bekend gemaak wat die Suid-Afrikaanse en internasionale media in rep en roer gehad het.

Prof. Hoffman, sy nadoktorale navorser dr. Donna-Maréé Cawthorn en Harris Steinman van die Food & Allergy Consulting & Testing Service het 139 maalvleis, hamburgervleis en wors produkte vanuit supermarkte en slaghuise in die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal en Gauteng aan DNS-gebaseerde spesie-verifikasie onderwerp. Hulle het bevind dat  95 (68%) daarvan spesies soos donkie, bok, waterbuffel en soja bevat het wat nie op die produketikette verklaar is nie.

‘n Parlementêre ondersoek na die plaaslike vleisindustrie en ‘n ondersoek deur die Nasionale Verbruikerskomissie het reeds hieruit voortgespruit.

“Ons wou die bedryf en rolspelers laat wakker skrik oor hul standaarde en praktyke, en dat hulle hul verskaffers moet verantwoordelik hou, en daarin het ons geslaag,” hou prof. Hoffman vol.

En toe val sy seun ook nog van ‘n perd af en breek sy arm.

G’n wonder dat prof. Hoffman met ‘n ligte verkoue sukkel nie.

Sy navorsingspan het intussen reeds vir die nasionale Departement Landbou, Visserye en Bosbou ‘n vinniger metode ontwikkel om vleismonsters te toets. Sy laboratorium staan gepak met produkte wat produsente, winkelgroepe en joernaliste wil toets.

“Die bykomende fondse uit hierdie bestaande diens aan die industrie maak dit vir my moontlik om ‘n heelwat vinniger outomaties PCR-instrument vir die ekstrasie van DNS te koop,” voeg hy tevrede by.

En nee, hy skroom nie om sogenaamde “slegte nuus” weer bekend te maak nie. Inteendeel, soortgelyke projekte oor hoe restaurantbesoekers verneuk word met die soort vis- en wildsvleis waarvoor hulle betaal, word binnekort afgehandel.

 

Prof. Hoffman in kort

  • Het reeds 57 MSc- en 11 PhD-studente in hul navorsing begelei
  • Bied gereeld kortkursusse oor wildsvleis regoor Suider-Afrika aan
  • Publiseer reeds meer as 160 navorsingsartikels
  • Skryf albei hoofstukke oor die vleis en produksie van eksotiese diere in die opgedateerde Meat Science Encyclopedia
  • Medeouteur  van ‘n gids vir wildoesspanne oor die nakoming van Europese Unie-vereistes vir wildsvleisuitvoere.

Originally published in Kampusnuus, April 2013 (staff magazine of Stellenbosch University) 

Related posts

A few shortcuts to the latest Homo naledi news

Engela Duvenage

Sydney Brenner: A Nobel Prize winner’s life dedicated to science

Engela Duvenage

Plight of bats flies under the radar

Sarah Wild

Kalahari’s social spiders know how to share the workload

Engela Duvenage

S’bosch insekman “pa” van nuwe Kaapse kewer

Engela Duvenage

Silent giants unlock story of climate change

Sarah Wild