Wat ‘n muishondwyfie se handstand alles verklap

 

'n Dwergmuishondwyfie besig om 'n smeersel teen 'n tak te laat. Foto: Lynda Sharpe

‘n Dwergmuishondwyfie besig om ‘n smeersel teen ‘n tak te laat. Foto: Lynda Sharpe

Ek’s bly mense hoef nie soos dwergmuishonde maak nie. Hulle het mos die gewoonte om soos wafferse gimnaste ‘n handstand te maak, en dan hul boude teen ‘n tak of boomstam af te smeer.Dis nogal heel aardig om te sien hoe dwergmuishonde letterlik vir ‘n sekonde of twee so op hul hande staan, boude goed punt in die wind.

Kan jy net dink hoe onbetaamlik sulke gedrag sou lyk as mense dit ook moes doen!

Dié smeersel wat dwergmuishonde so afsmeer, kom uit ‘n klier tussen hul boude en bevat spesifieke chemiese boodskappe wat net ander meerkatte verstaan. Vir wyfies hou dit daarby nog ‘n heel spesiale betekenis in, want dit help hulle om die sterkstes onder mekaar uit te ken. Dis van die bevindinge van dr Lynda Sharpe van die Universiteit Stellenbosch se onlangse navorsing.

Dié vleisetertjies kom net in Afrika voor. Om hulle in aksie te sien, sal jy Mpumalanga, Limpopo of die noorde van KwaZulu-Natal moet besoek.

Dwergmuishonde is die kleinste lede van die muishondfamilie Herpestidae. Hulle eet meestal insekte, maar sal nie hul neuse optrek vir ‘n slang of ‘n akkedis nie. Hulle is vreeslike sosiale diere wat in groepe van tot 30 saamleef. Hulle doen alles saam met oorgawe. Hulle beskerm hul lewensruim saam, haal mekaar se luise af en deel die verantwoordelikheid om wag te staan teen moontlike aanvallers.

Al is hulle sulke groepsdiere, bly een ding vas staan: daar’s net één wyfie en één mannetjie wat die die spreekwoordelike septer swaai binne elke groep. Wetenskaplikes praat van hulle as die sogenaamde alfawyfie en –mannetjie. Hulle is so dominant dat hulle selfs die voortplantingsvermoë van die ander groepslede beperk. Net die alfa-paar kry kleintjies – die ander is bloot net daar om die baba-meerkatte te versorg en te help grootmaak.

Vir die afgelope tien jaar al bestudeer Sharpe vier spesifieke groepe dwergmuishonde op ‘n wildreservaat in Limpopo. Dié wilde diere is teen hierdie tyd al so gewoond aan haar dat sy tot byna ‘n meter van hulle af kan gaan sit om hulle dop te hou, sonder dat hulle die pad vat. Sharpe is ‘n gedragsekoloog van die Departement Plant- en Dierkunde en geïnteresseerd in hoekom diere sekere dinge doen.

Sharpe het gesien dat al wat dwergmuishond is – selfs die welpies – handstande uitvoer om chemiese boodskappe te los. Sy’t onlangs ‘n studie in die vaktydskrif Animal Behavior gepubliseer waarin sy verduidelik dat dwergmuishond-wyfies die grote en die fisiese vermoëns van ander wyfies in hul groep daaruit kan “lees”.

Die mannetjies het nie juis sin in die wyfies se “seine” gehad nie. Die wyfies daarinteen was deur die bank baie meer geïnteresseerd in die reukmerke wat die hoogste gelos is. Hulle het selfs op hul tone gestaan om dit behoorlik deeglik te kon beruik. Dit was selfs die geval al het die chemiese samestelling van die onderskeie smeersels geensins verskil nie.

Gewoonlik word die hoogste vroulike reukmerke gelos deur die grootste wyfies, want hulle het langer, sterker lywe en kan dus hoër rek. Die grootste reukmerk word gewoonlik deur die alfa-wyfie gelaat. Sy sou deur die loop van seisoene deur ander groteres uitgedaag kon word om die koninginskap van hul groep.  Onthou, die kompetisie tussen dwergmuishond-wyfies is buitengewoon intens, want net een van hulle is per keer ma.

Lynda SharpeDie reukmerke gee die wyfies kans om mekaar op te weeg, en te besluit of hulle ‘n kans moet vat om mekaar aan te vat vir ‘n hoër plekkie in hul baie rigiede, hierargiese sosiale rangorde. Elkeen weet hoe laag af in die rangorde hulle lê gemeet aan die alfa-wyfie – en dus hoe goed of skraal hul kanse is tot moederskap.

Sharpe se navorsing is van die min wat al gefokus het op die invloed of rede agter die relatiewe hoogte van reukmerke.  Meestal word gereken dat diere hul reukmerke so hoog moontlik maak sodat dit verder kan versprei en waai tot in die neusvleuels van ander diere oor ‘n afstand heen.

Natuurlik is dwergmuishonde nie die enigste soogdiere wat sulke chemiese boodskappe gebruik as kommunikasiemiddel tussen lede van hul eie spesie of ander soort diere nie. Soms is die boodskap dat ander diere dit nie moet waag om verder in ‘n spesifieke gebied in te beweeg nie, want ‘n kleim is reeds daarop afgesteek. Soms is die boodskap weer dat ‘n loslopende vrygesel in die omgewing is, op soek na ‘n metgesel.

Wanneer jou hond op ‘n aandwandeling so gedurig aan lamppale ruik, is hy eintlik net besig om die boodskappe van ander honde te probeer ontsyfer. Gun dus jou troeteldier maar so ‘n bietjie snuffelkans, want dis die naaste wat hy het aan die hondeweergawe van Facebook!

 

 

 

Engela Duvenage

Co-founder of SciBraai.co.za. Day job: Science writer and science communicator who loves turning research papers into news stories. Claim to fame: mother of two daughters; winner of the Izethelo Award for Outstanding Journalism (2016) from the South African fruit industry, and winner of the best technical article award (2016) as presented by the South African Agricultural Writers' Association Background: MPhil (Journalism, specialising in science journalism) and HonsBA (Psychology).

More Posts

Follow Me:
Twitter