Salt on a table
Health & Medical

Min soet oor SA se soutbeleid

Maandagaand 21:05 – My lus vir souttjippies kry die oorhand. Teen my beterwete gaan haal ek die pak wat na die naweek se braai oorgebly het in die kas. En laat waai. My man kom net betyds agter daar’s laataand versnaperinge, en kry darem so drie monde vol te ete.

Dinsdagoggend 8:54 –  ‘n Persverklaring land in my inboks van die Universiteit Stellenbosch. Onmiddellik voel ek trots (want dis gebaseer op navorsing deur ‘n goeie vriendin as deel van haar meestersgraad). En tegelykertyd ook skuldig (oor daai groot pak tjips wat ek so te sê alleen opgeëet het).

Want sien, die persverklaring gaan oor Suid-Afrikaners se soutinname. Hoedat te veel nie goed is vir jou nie. Hoedat wetgewing wat in 2016 ingestel is om te sorg dat veral geprosesseerde kosse nie te veel bevat nie nog nie juis veel meer as ‘n paar korrels se verskil gemaak het nie.

Dis gebaseer op navorsing deur dieetkundige Marzanne van Loggerenberg en dr Nelene Koen van die Afdeling Menslike Voeding aan die Universiteit Stellenbosch, asook dr Bianca van der Westhuizen van die Departement Lewens- en Verbruikerswetenskappe aan UNISA, in die South African Journal of Clinical Nutrition.

Wetgewing

Die eerste verpligte teikens rondom soutperke het in Junie 2016 ingeskop, en die laastes daarvan is eers teen 2021 ingestel.

Volgens die kenners was die aanvanklike instel daarvan ‘n halwe dekade terug ‘n “innoverende strategie” om landsburgers “se hoë soutinname te help verminder”. Suid-Afrika was ‘n “pioniersland” met hierdie strategie, wat ʼn openbare bewusmakings- en opvoedingsproses ingesluit het.

Maar ai, die nuus verder in die persverklaring is minder opwindend: “Al is ʼn mate van sukses aanvanklik met die soutverminderingstrategie behaal, glo sleutel-rolspelers die regering het misluk om op hierdie vroeë momentum voort te bou omdat Suid-Afrikaners steeds meer sout verbruik as die daagliks aanbevole inname van 5 gram of ʼn teelepel.”

(Ek gaan soek in die asdrom na die tjipspakkie. Volgens die fynskrif agterop was daar 550 mg, dus 0,55 gram, se sout in die 100 gram aartappelskyfies wat ek binne ‘n halfuur verorber het. Die pak het eintlik 120 gram se aartappelskyfies bevat, maar hopelik het my man darem so 20 gram daarvan geëet … skrale troos. Ek’t dus binne een pak skyfies ‘n groot homp van die aanbevole hoeveelheid sout vir my dag ingeneem. En dan kom dit wat ek ook nog die dag in of oor my kos gegooi het, of reeds in die vervaardigingsproses daartoe gevoeg is, nie eens by nie.)

Soutperke kort skop

Kenners het reeds voor die instel van die perke gewaarsku dit sal ‘n moeilike saak wees.

Die persverklaring verduidelik hoedat die navorsingspan by rolspelers in die akademie, die regering en beleidsverwante instellings, die navorsingsektor en nieregeringsorganisasies uitgevind het wat hulle dink “oor die uitdagings en geleenthede om die land se soutverminderingstrategie vorentoe te neem”. Die wie’s wie oor die onderwerp, dus, wat by die ontwikkeling, inwerkingstelling en/of evaluasie van die strategie betrokke was.

Die meeste van hulle was oortuig dat Suid-Afrikaners op een of ander manier weet hulle moet eintlik minder sout eet. In die breë weet die meeste egter nie regtig hoeveel verborge sout daar in hul kos is nie, of hoeveel hulle byvoeg terwyl hulle hul lywe Gordon Ramsay hou by die kospotte of aansit vir ete nie.

Deelnemers aan Van Loggerenberg se studie het deur die bank gesê hulle weet nie van enige verbuikersbewusmakingsprogramme wat Suid-Afrikaners tans voortdurend kan aanpraat oor hul soutgewoontes nie. Van hulle sou byvoorbeeld wou sien dat kinders meer daaroor op skool leer.

“Al het die deelnemers gevoel enige opvoedings- en bewusmakingsveldtog moet deurlopend wees vir die bevolking om daarby baat te vind, het hulle erken dat soutinname in die lig van ander belangrike voedingsuitdagings nie hoog op die regering se agenda is nie,” het die navorsers bygevoeg.

Beter planne nodig

Daar is gemaan teen ‘n  “een-grootte-pas-almal” bewusmakings- en opvoedingsveldtogte omdat verskillende inkomstegroepe verskillende prioriteite het wanneer hulle kos koop. Arm Suid-Afrikaners word dikwels gedwing om bekostigbaarheid eerder as gesondheid voorop te stel as hulle koswinkels besoek.

Dis moeilik om te monitor hoeveelheid sout in veral geprosesseerde kos is, onder meer omdat daar te min laboratoriums en gekwalifiseerde personeel is om sulke toetse te doen. Dis ‘n duur oefening, en dinge is nog nie mooi gestandariseerd nie.

‘n Suksesvolle strategie is egter nodig, sê die navorsingspan. Dit sal lewens red, die las op die gesondheidsorgstelsel help verlig en Suid-Afrika “aan die voorpunt van grondverskuiwende en visioenêre soutverminderingstrategieë wêreldwyd plaas”.

Hoe kan sake beter? 

Die navorsers en die mense wat op Van Loggerenberg se vrae gereageer het, het darem ook raad oor hoe Suid-Afrikaners gehelp kan word om minder sout te eet:

Hier’s van hul voorstelle:

* Stel weer verbruikersbewusmakings- en opvoedingsprogramme in, en sorg dat dit verskillende teikengroepe in verskillende inkomstegroepe bereik.

* Standariseer soutmonitering en brei dit uit na wegneemeetplekke, formele restaurante en ander voedseldienseenhede.

* Gebruik woorde, logo’s en simbole voor-op verpakking as “waarskuwingsligte” . (Moet dit dus nie inligting oor die hoeveelheid sout wat ‘n produk bevat as fynskrif wegsteek nie, soos wat die geval is met my gewraakte tjipspakkie se voedingsinligting).

* Lei gesondheidsorgwerkers op om die strategie te help versterk.

* Sorg dat die regering en sleutel-rolspelers met mekaar praat, en dat daar genoeg geld is vir projekte. Doen meer bewysgebaseerde navorsing oor hoeveel sout Suid-Afrikaners inkry deur geprosesseerde en ander kos te eet.

Hoekom bekommerd wees hieroor?

Kyk, sout moet jy inkry, sowat vyf gram daarvan verkieslik, volgens die kenners. Dit help onder meer jou senuweestelsel en spiere goed werk, en met die waterbalans in jou lyf. Kry jy te min in, kan dit tot ‘n kondisie genaamd hiponatremia lei – krampe, naarheid en duiseligheid is deel van daai pakkie.

Die probleem lê volgens gesondheidskenners egter by die ander  “te” – te veel. Kry jy te gereeld te veel sout in, kan dit lei tot hoë bloeddruk, beroertes, hart- en nierprobleme, vetsug, maagkanker en selfs beenverwante osteoporose lei.

(Gelukkig is my bloeddruk aan die lae kant, troos ek myself weer oor daai groot pak skyfies.  Maar vir hoe lank, gegewe my voorliefde daarvoor?)

(En dalk net lyk my sout-eet gewoontes teen vroeg Maart volgende jaar beter. Dis wanneer die jaarlikse Internasionale Soutbewusmakingsweek gehou word.)

 

Related posts

Bushmen cure-all offers locals a sustainable income

Sarah Wild

Salim Abdool Karim: a crusader for HIV research

AdminBraai

TB or not to be

Engela Duvenage

Money the big issue when it comes to surviving HIV/AIDS # Scibraai Monday Menu

Engela Duvenage

Plate reflects purse in South Africa

AdminBraai

From Stellenbosch to Saskatchewan: microbes across the globe

AdminBraai