Hy is in 1947 in Pretoria gebore, het in Suid-Afrika grootgeword en hy is met die Nobelprys vir chemie bekroon.
Prof. Michael Levitt (66) is nou ’n Amerikaanse, Britse en Israeliese burger en hy deel dié eer met nog twee mans van Joodse afkoms. Hulle is proff. Martin Karplus (83), ’n burger van die VSA en Oostenryk wat as kind in 1938 voor die Nazi’s moes vlug, en Arieh Warshel (73), ’n burger van die VSA en Israel.
Die drie het die voetwerk verrig om chemiese modellering op rekenaar te doen. Dié tegniek word vandag oral gebruik.
Levitt het Suid-Afrika op 16-jarige ouderdom verlaat, volgens ’n inligtingstuk van die Stanford-universiteit (SU) waar hy sedert 1987 aan die skool vir geneeskunde verbonde is. Hy het in 1971 ’n doktorsgraad in molekulêre biologie aan die Universiteit van Cambridge behaal.
Die eerste ding wat hy gister gedoen het, was om sy 98-jarige ma in Londen te bel, het die SU gesê.
Die drie navorsers het in die 1970’s reeds begin met rekenaarwerk om chemiese prosesse te voorspel en te verstaan. Die modelle weerspieël en voorspel ware omstandighede.
Lus for more of this story? Go get seconds at the Die Burger‘s website.