Onlangs bevind ek myself by die Speyer Tegniese Museum in Duitsland. Op ‘n hektaar of twee word by die 2000 voorbeelde uitgestal van al wat meganiese en tegnologiese uitvinding is wat die mens al kon uitdink. Buite en binne twee reusesale sien mens van die vroegste motorfietse, motors en duikbote tot ‘n Boeing 747-200 vliegtuig, satelliete en ‘n model van leefkwartiere van die Internasionale Ruimtestasie. Min sou ek toe kon raai dat ek binne weke weer daaraan sou dink, en dit danksy rugby!
‘n Dag voor die Springbokke teen Italië in Japan op 4 Oktober 2019 sou speel, is met groot fanfare aangekondig dat die wedstryd die eerste Wêrelbekerkragmeting ooit sou wees wat in die ruimte uitgesaai word.
Dis omdat rugbyfanatikus Luca Parmitano (@astro_luca) die week die eerste Italianer ooit geword het om kaptein van die Internasionale Ruimtestasie te word. Luca, wat al sedert Julie aan boord die tuig meer as 400 kilometer bo die aarde sweef, het boonop verjaar ook. Voor die wedstryd het hy boodskappe ter ondersteuning aan die Italiaanse rugbykaptein in Japan gestuur. (Dit het nie veel gehelp nie, want die Bokke het steeds 49-3 gewen.)
An out of this world good luck message from @esa astronaut @astro_luca to @Federugby team.
— Rugby World Cup (@rugbyworldcup) October 3, 2019
The rugby mad Italian fan will get to watch #RSAvITA from the International Space Station thanks to a special broadcast feed produced by World Rugby on Friday. #RWC2019 pic.twitter.com/E5NjGOYz3R
Dis natuurlik nie die eerste keer dat Suid-Afrikaanse rugby in die ruimte ‘n draai maak nie. Mark Shuttleworth, die eerste man uit Afrika wat in die ruimte was, het ‘n Springboktrui en ‘n rugbyballetjie as bagasie vir sy reis saamgevat.
Maar kom ons kom terug aarde to: Ek’t einde September die Speyer Museum besoek saam met joernaliste, studente en navorsers wat almal die 7de Heidelberg Laureate Forum in die Duitse universiteitstad Heidelberg op uitnodiging bygewoon het. Die byeenkoms het 200 jong wiskundiges en rekenaarwetenskaplikes van 60 lande byeengebring vir lesings en gesprekke met ‘n belangrike groep ouer kundiges. Dié sogenaamde “Laureates” het oor die jare al van die wêreld se belangrikste pryse in wiskunde en rekenaarwetenskap ontvang, waaronder ACM AM Turing-toekenning, die Fields-prys vir wiskunde en die ACM Toekenning vir Rekenaarwetenskap.
Onder die lesings was ook een deur ‘n Nobelpryswenner, wat uitgewy het oor watter breinselle sorg dat mens ‘n mens ‘n sin vir rigting en oriëntasie het – belangrik vir ‘n vleuel wat dalk oor ‘n rugbyveld heen ‘n lyn wil sny!
Gedurende die week kon die jong navorsers land en sand met van hul grootse helde gesels. Onder hulle was die man wat die dryfveer agter rekenaargrafika was, die twee Amerikaners wat enkripsie of kriptografie van elektroniese boodskappe uitgedink het, en ‘n Rus wat ‘n wêreldprys vir sy wiskundige berekeninge oor abstrakte algebra ontvang het.
Almal wou egter beslis ‘n selfie neem saam met die 76-jarige Vinton Cerf, een van die vaders van die Internet. Hy het in 1973 die basiese boustene daarvan saam met Robert Kahn geskryf, en later ook gesorg dat e-pos aan die breë publiek bekend gestel word, en nie net binne militêre kringe gebruik word nie.
Tydens die weeklange byeenkoms het ek hom gevra of hy destyds ooit sou kon droom hoeveel goeie én slegte gebruike die Internet sou oplewer, of hoe verslaaf mense aan hul skerms sou raak?
“Ek wou maar net ‘n paar universiteitsrekenaars aan mekaar koppel,” het Cerf goedig en droog laat hoor. “Ek was nog nooit goed met goed voorspel nie.”
Sy oë het egter soos dié van ‘n laerskoolseuntjie wat ‘n skepskop deur die pale gestuur het geblink toe hy uitgevra word oor vordering rondom sy idee rondom interplanitêre internet. Hy’s al sedert die laat 1990’s betrokke by ‘n inisiatief waardeur die konsep deur onder meer NASA en ander internasionale vennote in die ruimtebedryf gedryf word – een wat dit dalk eendag selfs sal moontlik maak om rugbywedstryde tot by Mars te live stream!
NOTA: Scibraai kon nog nie via die gebruiklike erkende sosial-media kanale vasstel of die ruimtelike rugby-uitsending wel plaasgevind het nie. Gedurende die wedstryd kon via die tuig se “live stream” kanaal slegs gesien word hoe daar elke 45 minute om die aarde gewentel word. Die stem van ‘n ruimtevaarder is wel op ‘n stadium gehoor wat kla oor die gehalte van konneksies aan boord.)