
Mandla Maseko (25) van Mabopane in Pretoria het verlede jaar vir 80 000 ander Suid-Afrikaners in ’n deodorant-maatskappy se kompetisie geklop om in 2015 ruimte toe te gaan. En vandeesweek was hy by Scifest in Grahamstad om ander jong Suid-Afrikaners te inspireer.
Hy sal slegs die tweede Suid-Afrikaner wees wat nog ooit in die ruimte sal wees.
Een van sy drome vir die toekoms is dat Suid-Afrika sy vlag op die maan sal kan plant. “Ek droom daarvan dat ons ons eie lanserings na die ruimte sal kan doen. Dink het hoe fantasties sal dit wees indien dit bekostigbaar sal wees in die toekoms vir almal om ruimte toe te gaan.”
En sien hy uit na 2015? “Ja dit gaan gek wees!”
Maseko vertel dat hy in die afgelope drie maande al meer plekke besoek het as wat hy in sy hele lewe was. Sedert hy in Desember gehoor hy is die wenner, was hy vir die eerste keer in Bloemfontein en twee keer in Kaapstad. “Dit is ongelooflik, ek het al meer as 100 onderhoude gedoen en is trots om Suid-Afrika te verteenwoordig.”
Hy het aan twee uitdunkampe deelgeneem – een in Suid-Afrika en die ander by Cape Canaveral, Florida.
Maseko was een van drie Suid-Afrikaanse finaliste. Die ander twee – Dean Roddan en Haroon Osman – was albei ook van Gauteng.
Die drie moes in die VSA teen mekaar meeding vir die plek, omdat 23 lande elkeen een plek gewaarborg is.
Die private maatskappy Space Expedition Corporation ontwikkel tans ’n tweesitplektuig, die Lynx Mark II, en dit is in dié tuig dat Maseko in 2015 ruimte toe sal gaan. Daar is net plek vir die vlieënier en ’n passasier. Maseko se vlug hierin is in 2015.
Kaartjies met die Lynx Mark II kos $100 000 (sowat R1 miljoen) per persoon vir ’n vlug van minder as twee uur – waarvan ’n paar minute in die ruimte, net bo 100 km sal wees, om te kwalifiseer as iemand wat in die ruimte was.