Technology & Computer Science

WNNR-stewel ‘beskerm teen landmyne’

Thanyani Pandelani met die stewel wat soldate se lewens kan red as hulle 'n landmyn aftrap.
Thanyani Pandelani met die stewel wat soldate se lewens kan red as hulle ‘n landmyn aftrap. Foto: Elsabe Brits/Die Burger

’n Stewel wat mense teen dodelike landmynontplof­fings beskerm is deur kenners van die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) ontwerp. Dit is so gevorderd dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag die patent gekoop het.

Thanyani Pandelani was deel van die span wat drie jaar lank aan die ontwerp gewerk en drie prototipes gebou het.

Die stewel waarop hulle besluit het, het ’n gewone rubbersool. Dit het egter ook ’n tweede sool van sowat 6 cm dik wat uit verskeie saamgestelde mate­riale be­staan. “Dit is hier waar die geheim lê,” het hy vertel, maar nie die geheim verklap nie.

Verder lyk die stewel soos enige ander. Een van die prototipes bestaan uit ’n sool wat onder ’n skoen geheg kan word.

Die WNNR het verskeie toetse op die stewel gedoen en Pandelani het gesê dit het ernstige beserings voorkom. Die stewel kan baie skok absorbeer en voorkom amputasies.

Soldate het dit uitgetoets en hulle was ook gemaklik om daarmee te hardloop, al is die stewel so hoog. Hul enigste klagte is dat dit teen 3 kg effe swaar is.

“Maar die keuse wanneer jy in gevaarlike gebiede werk, is tussen lewe en dood. Maar ek werk aan ’n ligter materiaal.”

Hy het bygevoeg dat daar nog baie landmyne in Mosambiek en Angola is.

Die volgende projek is om mense beter te beskerm wanneer hulle binne-in voertuie is en ’n bom of ploftoestel ontplof onder die voertuig.

Pandelani stel ook belang in verkeersveiligheid. “Niemand in Suid-Afrika doen navorsing om padgebruikers se ritte veiliger te maak nie. Ek wil dit graag doen,” het dié biotegno­loog en oudstudent van die Universiteit van Kaapstad gesê.

* Hierdie artikel is aangepas met die vergunning van Die Burger, ter bevordering van wetenskap in Suid-Afrika.

Related posts

IBM research lab to work with the cool kids

Sarah Wild

“Digital divide can do more harm than apartheid” – Minister

AdminBraai

Rugby in die ruimte

Engela Duvenage

The battle of Majuba goes underground

Sarah Wild

Free coding program targeting under-priveleged youth to launch in SA

AdminBraai

Shisa Sayensi: Isayensi yeviki (14 June 2016)

Sibusiso Biyela