Iewers in die Villiersdorp-omgewing is daar ‘n kleine naaldekoker wat soos ‘n superheld van kleur kan verander. As die son skyn, lyk die Spesbona angusta waterjuffer metaalblou soos ‘n VW Jetta van ouds. Sodra die temperature daal of ‘n wolk voor die son skuif, word dit so bruin soos donker sjokolade.
Navorsers aan die Universiteit Stellenbosch het verlede jaar ‘n stophorlosie gevat om te kyk hoe vinnig die mannetjies én wyfies van dié spesie ‘n ander kleur baadjie kan aantrek. Die uitslag? Dit gebeur binne 32 sekondes – omtrent 2 sekondes stadiger as wat dit vir Wayde van Niekerk vat om die 300 meter-item af te lê.
Dis nie net oor sy amper magiese kleurwisselende vermoëns dat hierdie waterjuffer een van my gunsteling-insekte is nie. Dis ook oor die storie van ontdekking en herontdekking wat daaroor vertel word. Dis glo die eerste keer raakgesien in die 1860’s in die Cederberge-gebied anderkant Ceres. Dis seker dié dat dit op ‘n tyd in Engels die “Ceres streamjack” genoem is. Sy amptelike spesienaam beteken “waterjuffer van goeie hoop”.
Sedert die 1920’s het dit net verdwyn, glo veral weens indringerplante en verbouing in sy natuurlike omgewing. Vir agt dekades is geen spoor of ‘n deurskynende vlerkklap daarvan gesien nie, en mense het begin hoop opgee. Dis totdat insekkenner prof Michael Samways van die Universiteit Stellenbosch en fotograaf Warwick Tarboton gaan besoek aflê het in die Theewaterskloof-bewarea daar naby Villiersdorp se vrugtewêreld. Indringerplante is vroeër uit die gebied verwyder, en hulle wou kyk hoe die natuur daarop reageer.
Hulle kon nie hul oë glo toe hulle na al die jare weer ‘n Spesbona angusta sien nie. Die verbasing was nog groter toe prof Samways in 2014 op ‘n ekspedisie saam met sy studente terug na die gebied was, en besef het dat die kleine naaldekoker van kleur kan verander. Prof Samways is ‘n man wat sy naaldekokers ken, en is onder andere die skrywer van ‘n boek wat al die spesies lys wat in Suid-Afrika gevind word! Hy’t weldra een van sy studente, Charl Deacon, opdrag gegee om onder meer ‘n stophorlosie nader te trek en die fenomeen te bekyk as deel van sy studies.
Sedertdien is gereken dat die Spesbona waterjuffer nêrens anders in die wêreld hou as langs stroompies en poele naby Franschhoek en Villiersdorp nie. Dis totdat Jean Hirons van Hoekwil naby George vroeg in Oktober besluit het om aan die “Shoot the Dragons”-projek van die Universiteit Kaapstad se African Demography Unit deel te neem. Dit daag natuurliefhebbers uit om vir een week per maand regdeur die somer foto’s te neem en by die Odonata Map-databasis op die internet oor Suid-Afrikaanse naaldekokerspesies te voeg. Die inligting word gebruik om beter kaarte op te stel oor watter soorte waar voorkom, en wanneer hulle te sien is. Die inligting word ook onder meer gebruik om te besin hoe klimaatsverandering hierdie sonsoekende insekte en ander lewensvorme kan beïnvloed.
How To Shoot Your Dragon! by @AnimalDUnit #africa #biodiversity https://t.co/wWvWDsaDNX via @SlideShare #citizenscience #conservation
— AnimalDemographyUnit (@AnimalDUnit) October 4, 2017
En daar kliek Hirons toe byna 400 kilometer vanaf Villiersdorp ‘n Spesbona by een van die riviere wat die Tuinroete se mere voed! Dit het groot opgewondenheid veroorsaak onder Odonata-liefhebbers (mense wat van naaldekokers hou).
Die wonder van die wetenskap is juis dat sulke nuwe inligting voortdurend te voorskyn kom. En dis beslis nie net die werk of voorreg van “amptelike” navorsers by universiteite nie! Sogenaamde “citizen science” projekte betrek toenemend Jan en San Publiek wat navorsers en studiegroepe wil help om waardevolle inligting in te samel.
Deur sulke “citizen science” projekte kan lede van die publiek hul lyf amateur-navorsers of data-insamelaars hou. Dit word onder meer gedryf deur die wete dat wetenskaplikes onmoontlik oral kan wees nie. Daarteenoor is daar byvoorbeeld baie stappers en voëlkykers wat besonderse natuurliefhebbers is, en danksy gereelde uitstappies en vakansies regoor die land ‘n goeie kennis opgedoen het oor wat in die omgewing aangaan. Sulke projekte vir amateur-navorsers vra lede van die publiek meestal om foto’s en presiese GPS-koördinate in te stuur van sekere soorte plante of diere. In die era van ligte slimfone met goeie kameras en GPS-tegnologie is dit heel maklik om te doen!
Citizen science is what drives us! See what the ADU has to say about #citizenscience today: https://t.co/CVtDKNanzW
— AnimalDemographyUnit (@AnimalDUnit) October 16, 2017
Die kenners gebruik die inligting dan weer om kaarte saam te stel wat wys hoe wydverspreid (of uiters beperk) sekere spesies voorkom. Dis nie net vir foto’s van naaldekokers wat die African Demography Unit op bydraes van die publiek staatmaak vir hul virtuele museum oor Suid-Afrikaanse spesies nie. Mense kan enigiets van sampioene, miskruiers, bome, aasvoëls, visse, paddas, spinnekoppe en orgideë kliek en instuur. Een van hul projekte vra selfs vir mense om voëls met vreemde vere af te neem!
The ADU's awesome #virtualmuseum projects need you! See how you can contribute: https://t.co/0Xg1GbFHqS #citizenscience
— AnimalDemographyUnit (@AnimalDUnit) October 16, 2017
Ander projekte word weer gebruik om die getalle van sekere spesies beter te bepaal, soos die African Demography Unit se CAR-projek. Vir meer as twee dekades lank al spring voëlliefhebbers op die laaste Saterdae van Januarie en Julie in hul motors. Dan tel hulle hoeveel groterige kraanvoëls, ibisse, korhane, gompoue of sekretarisvoëls hulle sien pik-pik op die grond langs 350 vasgestelde roetes oor Suid-Afrika heen.
Die Cape Citizen Science-projek vra weer vir mense om op die uitkyk te wees vir fynbosplante wat vrek, want Tukkie/Matie PhD-student Joey Hulbert is besig met navorsing oor verskillende Phytopthora-mikrobes wat siektes onder plante in die Kaapse blommeryk veroorsaak.
These infected baits are from one of the samples @se7en_hoods brought us last weekend. Interesting! https://t.co/aaE9eavHHD pic.twitter.com/1iV6lgPPIJ
— Cape Citizen Science (@CapeCitSci) September 3, 2017
Hierdie week het die Universiteit Stellenbosch en SanParke ‘n projek aangekondig waarmee vissermanne kan help. Hulle moet dink oor die soorte wurms wat hulle as aas gebruik, en die name wat hulle daarvoor gebruik. Is dit dan nou ‘n bloedwurm, ‘n wonderwurm, ‘n gruiswurm, ‘n maanskynwurm of ‘n poedingwurm wat hulle verkies om aan die hoek te sit? Dis glo ‘n tameletjie om te weet watter wurm mens waar kry, en of daar honderde soorte is of net ‘n paar wat almal maar net verskillend genoem word. Wie weet wat mens alles danksy hierdie projek kan leer! Dalk moet die mense van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal dalk ook net naderstaan, want dalk net duik daar nuwe vissermanswoorde op!
Stellies 'worm whizz' wants to know what fisherfolk use on their hooks https://t.co/XCnKhF7FoS via @CapeTalk
— Faculty of Science (@scienceSUN) October 19, 2017