Biology & Evolution

Suid-Afrika se spoegkonings

Velvet_worm2My Graad 4-broerskind moes onlangs ‘n skoolprojek doen oor Suid-Afrika se sogenaamde Vyf Klein Boksoorte – ‘n soortgelyke lys as die Groot Vyf van leeu, buffel, luiperd, renoster en olifant. Die duiker, grysbok, suni, oribi en steenbok was almal op sy boksoort-lysie.

So begin ek toe bespiegel oor die opstel van soortgelyke “Beste Vyf” lyste waarmee mens Suid-Afrika se minder bekende diersoorte kan bemark. So sal mens maklik ‘n lys van lelikstes, wreedstes, giftigstes, vinnigstes en selfs bloustes kan saamstel.

As ek ‘n lys sou moes opstel oor van ons mees bisare dog verbysterende klein kreature,  sou die fluweelwurm (in Engels bekend as die “velvet worm”) beslis daarop verskyn het.

As jy al met jou tone tussen die blare op ‘n bosvloer van een van die Limietberge se klofies gevroetel het, of in ‘n klam, donker grot oornag het, het jou paaie dalk net met een van hierdie vleisetertjies gekruis.

Voordat jy te hopeloos begin gril, ontspan. Hulle kan die mens niks aandoen nie. Vlooie en ander klein insekte is eerder hul kos – en dié verdrink hulle so te sê deur taai spoeg uit twee gaatjies in hul voorkoppe te spuug met ‘n aksie wat herinner aan ‘n cowboy wat sy vangriem bo die kop rondswaai. Dié karnivore se taai, ensiemryke spoeg word binne sekondes droog, en immobiliseer hul prooi sodat hulle dit daar en dan opgevreet kan word. Skynbaar kan ‘n spesie van die Neotrope tot ‘n meter ver spoeg en selfs klein voëltjies vastrek.

Dié klein gelykpotige diertjies met hul sagte lyfies bly gewoonlik in klam, hoogliggende gebiede, grotte of in woude, maar mens sien hulle nie sommer nie. Suid-Afrikaanse spesies wissel tussen blou, wit en grys tot donkerswart, roospienk en oranje, en is piepklein. Ons grootstes is nie veel langer as ‘n vingerhoed nie, in teenstelling met die fluweelwurm-reus van 20cm wat mens in Costa Rica kry.

Fluweelwurms kén die kuns van kamoeflering. Wanneer hulle bedreig voel, rol hulle blitsig in bolletjies op en lê stil en wag tot die gevaar iets van die verlede is.

Ek’t op ‘n keer oor fluweelwurms gesels met prof. Savel Daniels, ‘n lid van die Evolusionêre Genomikagroep van die Universiteit Stellenbosch se Departement Plant- en Dierkunde, en een van min plaaslike kundiges wat oor navorsing doen oor hulle. Hy het onlangs twee nuwe spesies van hulle help beskryf.

Hy het vertel dat mense hulle dikwels verwar met naakslakke of duisendpote, maar dat hulle in ‘n klas van hul eie is. Hulle help onder meer om kompos te maak van die dik laag van blare en plantreste wat op ‘n woudvloer opgaar.

‘n Fluweelwurmspesie wat eens op Leeukop in Kaapstad voorgekom het, is glo een van die eerste soorte diere wat in Suid-Afrika uitgesterf het. Peripatopsis leonina is in 1899 vir die eerste – en enigste – keer saam met ‘n skoenlapper van dieselfde geweste beskryf, maar is sedertdien nooit weer gesien nie. Twaalf ekspedisies het sedertdien Leeukop sonder sukses gefynkam.

“Dit wys maar net vir jou hoe sensitief dié spesies is, en wat die impak op verbouing en mense se bedrywighede op die kleine boustene van ons ekosisteem kan wees,” het prof. Daniels vertel.

Vier van die elf beskryfde Suid-Afrikaanse spesies, wat almal net op baie spesifieke plekke voorkom, verskyn op die IUCN se Rooidatalys van Bedreigde Spesies. Die wit Peripatopsis alba, wat in die Wynberg-grotte voorkom, en P. clavigera van die Suid-Kaap word as kwesbaar gelys. Peripatopsis leonina van die Leeukop-omgewing en Opisthopatus roseus van die Ingele-woud word as krities bedreig beskou.

Opisthopatus herbertorum, wat maar eers in 2005 ontdek is, sal na alle waarskynlik binnekort ook op die Rooidatalys verskyn as ‘n krities bedreigde spesie – ‘n status wat dit dan ongelukkig met Suid-Afrikanase soogdiere soos die oewerkonyn en die swartrenoster sal deel.

Prof. Daniels glo sy genetiese navorsing oor hierdie kreature kan bewaring in die breë ondersteun, en dat mens nie net na die groter soogdiere soos leeus en olifante moet kyk as planne opgestel word rondom die bewaring van spesifieke ekosisteme nie.

Ja wat, dis die klein stukkies detail wat ook tel, en die natuur wonderlik bisar maak op die beste van dae, as jy net bereid is om bietjie daarvoor te soek.

Originally published in the Paarl Post community newspaper, May 2013.

Related posts

Investigations into Namibia’s “fairy circles” in the desert

Sarah Wild

Dinosourusse brul in die Kaap

Elsabé Brits

Citizen science crowdfunding project pays off

Engela Duvenage

Minute life: new diatom discovered on sea snakes

Engela Duvenage

Die panplant: broccoli se nuwe Afrika-niggie

Engela Duvenage

Evolution Day – the SciBraai round-up

AdminBraai