Volstruise kan nie proe wat hulle eet nie, én hulle kan ook nie verstik nie.
Dr. Martina Crole van die Universiteit van Pretoria se departement anatomie en fisiologie, het dié eienskappe van volstruise agtergekom toe sy aan haar doktorsgraad gewerk het.
Sy vertel aan Die Burger sy het volstruise met emoes vergelyk en toe gesien volstruise het nie smaakknoppies op die tong nie. Dit kan dalk verklaar hoekom hulle nie te kieskeurig is oor wat hulle eet nie, maar sy sê hulle kan baie goed ruik en sien.
Verdere genetiese toetse sal nou gedoen word om te sien of hulle gene het wat betrokke is by smaak.
Die emoes kan wel proe.
Sy het monsters bestudeer wat vir die kommersiële mark bestem was om spesifiek na die tong en keel te kyk om uit te vind hoekom hulle nie kan verstik nie, al het hulle nie ’n strotkleppie nie.
Die kleppie sorg dat water of kos nie in die lugpyp beland nie.
Mense het al 200 jaar gelede gesien die volstruis het iets soos ’n sakkie agter op sy tong, maar nie geweet waarvoor dit is nie. Die sakkie help om die lugweg toe te druk wanneer die volstruis en die emoe sluk, sê sy.
Die voëls is uniek en in ’n klas van hul eie, vertel sy.
Hulle het baie sensitiewe snawels waarmee hulle kos raak om sodoende uit te vis wat dit is en ook daaraan te ruik.
Lus for more? Go get seconds at Die Burger‘s website where this was originally published.