Agriculture

Van musiek tot melkstalle

Die eerste Suid-Afrikaanse studie oor die invloed wat klassieke musiek op beeste se welstand en melkproduksie het, het op ‘n hoë noot geeïndig.

‘n Melkstal is nie die plek waar iemand met ‘n musiekgraad gewoonlik verwag word nie, nog minder een met ‘n graad in koorleiding. Dis egter presies waar Lize-Mari Erasmus haarself vier maande lank met ‘n lied in die hart (en met musiek in die ore) bevind het, besig met navorsing oor die invloed van klassieke musiek op Holstein-beeste se spanningsvlakke.

Dié oud-Tukkie van Rustenburg met die stem van ‘n operasingende engel het in 2016 haar Hons BMus-graad verwerf. Sy het toe reeds egter geweet die verhoog is nie haar gemaksone nie, en eerder geniet om in spanverband as solis musiek te maak. Sy het wel oor die jare in die Universiteit van Pretoria (UP) se universiteitskoor, Camerata, gesing, en was daarna ook lid van die Akustika kamerkoor in Pretoria.

Daarom het sy besluit om eerder haar liefde vir diere in ‘n nuwe loopbaan uit te leef, en het in 2019 ‘n BSc-graad in Veekunde, ook aan Tukkies, verwerf.

‘n MSc-graad was daarna ‘n natuurlike gevolg vir die leergierige Erasmus. So is sy met die idee om haar twee belangstellingsvelde in ‘n navorsingstudie te kombineer na haar voorgenome studieleier, prof. Este van Marle-Köster, hoof van die UP Departement Veekunde en ‘n kenner oor die genetika en teling van diere. Dié is wyd bekend vir haar navorsing op beeste.

Sy wou ondersoek watter invloed die speel van klassieke musiek dalk het op die spanningsvlakke en welstand van koeie wat gereeld gemelk moet word.

Haar uiteindelik projek was die eerste formele studie van sy soort binne die opset van ‘n Suid-Afrikaanse melkery om spesifiek te kyk na die invloed van klassieke musiek op koeie se welstand – en melkproduksie.

“Sulke studies is nog nooit in Suid-Afrika gedoen nie,” onthou die singende veekundige. “Prof. Van Marle-Köster het dadelik van die plan gehou, want sy hou self baie van klassieke musiek.”

Prof. Andre Ganswindt, direkteur van die Soogdiernavorsingsinstituut in UP se Departement Dierkunde en Entomologie, was ook een van haar studieleiers.

UP se eksperimentele plaas by die Future Africa-kampus was die basis vir haar eksperimentele werk. Die plaas se Holstein-beeste word daagliks gemelk en die melk aan die publiek verkoop.

Eksperimentele werk

Sy het nege van die koeie in drie groepe van drie elk opgedeel, en oor ‘n kwessie van vier maande op rotasiebasis aan drie verskillende behandelingsmetodes blootgestel. Een groep het heeltyd klassieke musiek, gespeel vanuit gemonteerde luidsprekers, gehoor waar ook al hulle op die plaas was. Vir ‘n ander groep is net stukke soos dié van Mozart, Grieg en Bach melktyd gespeel. En die derde groep het in stilte deur hul dag gegaan.

Haar ma, Ilse Grünewald, ‘n oud-onderwyseres van Rustenburg, die waterdigte luidsprekerboksies ontwerp wat in die buite-area van die melkstalle gemonteer is. Dié het winde en weer trotseer sodat die musiek 24/7 kon speel.


Lize-Mari se ma het gehelp om waterdigte luidsprekerboksies te maak sodat klassieke musiek ook buite vir die koeie gespeel kon word. Foto: Martie MEyer

“Elke keer as hulle van groep verskuif het dit die beeste ‘n tydjie gevat om gewoond te raak aan die musiek. Mens kon dit sien aan hul effe geïrriteerde bewegings van hul ore en sterte. Die diere het egter binne ‘n week of twee gewoond daaraan.”

Later het van die koeie hulself sommer onder die luidsprekers tuisgemaak.

“Boere wat dit wil uitprobeer, moet dus nie te gou moed opgee as hulle aanvanklik sien die musiek pla hul diere nie,” is Lize-Mari se raad.

Rustige stukke musiek soos Handl se “Watermusiek” en Bach se “Moonlight Sonata” is gespeel, omdat vorige internasionale navorsing gewys het dat koeie rustiger stukke verkies bo byvoorbeeld Latyns-Amerikaanse samba of rock ‘n roll.

Die musiek is op die sogenaamde “shuffle”-formaat gespeel, om te keer dat die diere in ‘n roetine kon verval en sekere tye van die dag met seker stukke musiek wat in ‘n vaste volgorde gespeel word begin assosieer.

Die koeie se stresvlakke is waargeneem en geanaliseer, met hulp van UP se Endokriene Navorsingslaboratorium. Toetse is gereeld uitgevoer om vas te stel hoeveel glukokortikoïede daar in hul mis en melk was. Dié hormoon word in oorvloed afgeskei in spanningsvolle situasies.

Invloed van musiek

Koeie wat konstant klassieke musiek gehoor het, het deur die bank laer vlakke van glukokortikoïede in hul mis gehad het. Die afleiding is dat hulle dus meer ligvoets en ontspanne deur die dag gaan.

“Hulle was ook opmerklik kalmer wanneer hulle gemelk is. Gewoonlik is al die woel en werskaf in die stalle daarvan die mees stresvolle tyd in ‘n koei se dag.” .

Erasmus het ook mooi boek gehou van hoeveel melk elke koei in elke groep lewer.

Koeie wat 24/7 deur klassieke musiek omring was, het tot twee liter meer melk gelewer elke keer dat hulle gemelk is.

Koeie vir wie klassieke musiek heeldag gespeel is het tot 2 liter meer melk elke melktyd gelewer. Foto: Martie Meyer

“Musiek is relatief goedkoop tegnologie in vergelyking met ander tegnologie wat melkboere tans gebruik,” reken prof. Van Marle-Köster.

Sy reken dis nie nodig dat die musiek onnodig hard moet wees om te gebruik nie, al reken sommige boere dat dit die geval is.

“Koeie het ‘n baie fyn gehoor,” vertel sy.

Erasmus reken verbruikers wat omgee vir die welstand van diere sal in hul noppies wees dat hulle melk drink van meer “gekultiveerde” koeie.

“Die gesondheid en welstand van melkbeeste gaan hand aan hand met hoe goed en volhoubaar ‘n melkery bedryf word. Dit maak dus sin om die omgewing waarbinne plaasdiere aangehou word, te verryk met ekstra stimulasie, soos musiek.

“Dit gaan oor die goeie behandeling en sorg wat diere kry, en om te sorg dat hul fisiese en geestelike behoeftes ook aandag geniet.”

Sy wil ook glo dat die musiek ‘n rustige invloed op die werkspan by die eksperimentele plaas gehad het.

“Ek het geen bewyse daarvoor nie. Tog, nadat ek die studie klaargemaak het, het die werknemers daar gevra of ek nie tog maar die luidsprekers daar wil los sodat hulle verder musiek kan luister nie!”

Erasmus het in 2022 haar MSc-graad in Diereproduksie en Genetika met vlieënde vaandels cum laude aan UP verwerf. Haar bevindinge het reeds in die vaktydskrif Domestic Animal Endocrinology verskyn. Sy’t onlangs by Embryo Plus in Brits begin werk, en sal vanjaar haar doktorsgraad aanpak, hierdie keer op ‘n onderwerp wat meer op genetika sal fokus.

* Lees die oorspronklike navorsingsartikel hier:  https://www.sciencedirect.com/science/article/abs/pii/S0739724022000583

[sykassie]

Musiek vir die ore?

Studies in Finland uit 2021 wys dat koeie meer gereedelik in ‘n melkstal instap wat deel is van ‘n geoutomatiseerde melkstelsel as musiek daarbinne gespeel word.

“Ons bevindinge wys dat die speel van musiek dalk iets prakties is wat gedoen kan word om te help dat mens nie so hoef sukkel om koeie in ‘n melkstal in te dryf nie,” het Marie-Christene Lemcke van die Universiteit van Kassel in die vaktydskrif Dairy gesê.

Soortgelyke Kanadese studies in 1997 het dieselfde bevind.

In 2006 is bevind dat die speel van Indiese klassieke musiek die melkproduksie van Deoni-beeste met tot 12.64% verhoog. ‘n Chinese studie in 2015 het egter gewys dat koeie ten opsigte van melkproduksie nie goed reageer op folk-musiek nie.

By die 2019 British Society of Animal Science Kongres het navorsers gesê die speel van klassieke en country musiek en selfs oudioboeke stimuleer melkproduksie. Hulle het ook bevind dat die inbou van “stil” periodes waarin die diere aan geen musiek of stemme blootgestel word nie, ook goed is vir hulle.

Foto’s: Lize-Mari Erasmus en Martie Meyer

 

Related posts

Postgrads pass the mic

Anina Mumm

Drink a toast to the wine boffins

Sarah Wild

The UCT prof who helped save the bluefin tuna

Engela Duvenage

Maize science to make pig farming more profitable

Engela Duvenage

Plantation fires: What to do with burnt trees?

Engela Duvenage

Sunblock for your apples, anyone?

Engela Duvenage