Dis nie altyd maklik om die draer van slegte nuus te wees nie. Al word dit gelewer as deel van ‘n mens se dagtaak. Vra maar vir prof. Altus Viljoen van die Departement Plantpatologie aan die Universiteit Stellenbosch, wat onlangs gehelp het om die eerste voorkoms van ʼn vernietigende piesangswam-verwelkingsiekte in Afrika te beskryf. Dit is op ’n kommersiële piesang-uitvoerplantasie in noordelike Mosambiek gevind.
Die swam staan algemeen bekend as Foc TR4. Dit versprei deur grond en veroorsaak Fusarium-verwelking of Panama-siekte wat dodelik kan wees vir piesangplante. Dit is waarskynlik ingevoer uit Asië, waar dit piesangplantasies oor die afgelope twee dekades verwoes het.
“Die probleem met hierdie swam is dat dit vir dekades in grond kan oorleef,” vertel prof. Viljoen. “Dit is moeilik om uit te roei, en dus is dit belangrik om dit te beperk tot die gebied waar dit aangetref is. ’n Aantal maatreëls is nou geïmplementeer deur die bestuur van die plaas om te verhoed dat dit versprei na ander streke.”
Prof. Viljoen se navorsingspan is internasionaal bekend vir hulle werk oor die kenmerke en beheer van die piesang-verwelkingsswam. Hulle het ook al in die verlede variante daarvan afkomstig van Asië en Afrika geïdentifiseer.
’n Gesamentlike verklaring oor die ontdekking is vrygestel deur die Mosambiekse Departement Landbou, Matanuska, die Internasionale Instituut vir Tropiese Landbou (IITA), Universiteit Stellenbosch en Biodiversiteit Internasionaal.
“Ons primêre belang is om beheermaatreëls te implementeer en te moniteer om te verhoed dat die fungus hom vestig en versprei, en om die voorbereidheid van ander lande waar mense afhanklik is van piesangs vir hul voedselsekuriteit en inkomste, te verbeter,” het wetenskaplike dr Fen Beed van die Internasionale Instituut vir Tropiese Landbou (IITA) in die verklaring gesê.
Die gerapporteerde voorkoms is beperk tot ’n paar landerye op die betrokke plaas. Al die plekke waar die siekte aangetref is, is reeds geïsoleer, die geaffekteerde plante is vernietig en geskikte fitosanitêre maatreëls is geïmplementeer om te verhoed dat die siekte versprei.
“Ons is tevrede met die maatreëls wat geïmplementeer is deur die plaasbestuur, maar ons moet gereed wees om enige nuwe uitbrake in die streek en die vasteland te hanteer,” voeg dr. Serafina Mangana, hoof van Mosambiek se nasionale plantbeskermingsorganisasie (NPPO), by. “Ons sal daarom binnelandse kwarantynmaatreëls instel en skakel met ons kollegas in buurlande om verdere uitbrake en verspreiding van die fungus na skoon piesanglande te voorkom.”
Mosambiekse owerhede en wetenskaplikes werk nou saam met ’n konsortium Afrika- en internasionale wetenskaplikes – onder wie prof. Viljoen – om die verspreiding van Foc TR4 na nuwe gebiede in Afrika te verhoed. Die span sluit in die Mosambiekse Departement Landbou, die Internasionale Instituut vir Tropiese Landbou (IITA), Universiteit Stellenbosch, Biodiversiteit Internasionaal, die Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) en nasionale landbounavorsings- en regulatoriese organisasies in Afrika. Die deskundigheid in hierdie konsortium van produsente, nasionale owerhede, kwarantyndienste, piesangverbouers, piesang-patoloë en -kwekers strewe daarna om die huidige situasie in Mosambiek op te los en om lande dwarsoor die vasteland voor te berei vir enige toekomstige invalle van hierdie potensieel verwoestende plantsiekte.
Piesangs is ’n belangrike voedselbron in Afrika. In Uganda verbruik die gemiddelde persoon sowat 250 kg van hierdie vrug per jaar. Hierdie piesangs, wat hoofsaaklik gekook word, is weerstandig teen Afrika-vorme van die verwelking-swam. Wetenskaplikes voer nou toetse uit om vas te stel of hulle ook weerstandig teen die Asiatiese vorm kan wees.