Daar’s nie te veel mense in die wêreld wat kan sê dat hul doktorale studies aanleiding gegee het tot die identifisering van ‘n nuwe soort spesie nie. Insekkundige dr James Pryke van die Universiteit Stellenbosch kán wel. Daarby dra die nuwe kewer ter sprake, Capelatus prykei, sy naam ook.
Capelatus prykei is ‘n nuwe én baie unieke soort kewer wat heel moontlik net in Noordhoek naby Kaapstad te vinde is.
Dr Pryke het voorbeelde daarvan versamel saam met ‘n hoop ander insekte in digte ruigtes in ʼn vleilandgebied. Dit was al in 2006. Sy opnames in dié natterige, modderige gebiede was alles deel van sy PhD-studies aan Maties in entomologie, en spesifiek oor die bewaring van geleedpotiges.
Hy’t danksy ‘n kontak toe die insekte aangestuur vir moontlike identifikasie aan dr David Bilton, ‘n waterbioloog van Plymouth Universiteit in die Verenigde Koninkryke. En nee, hy’t nie noodwendig geweet hy’t iets nutus beet nie.
Dr Bilton het al die goggas deeglik ondersoek, en kon nie lekker sin maak van veral die een soort kewer wat dr Pryke aangestuur het nie. Hy’t begin rondsoek en weer ‘n versameling ongeïdentifiseer insekte opgediep in Londen se Natural History Museum.
Dit blyk toe dat dr Pryke nie die eerste is wat dié soort kewer al ingesamel het nie. Voorbeelde wat al in 1954 op die Kaapse Vlakte versamel is, lê toe al die jare al en vergader stof in die Britse hoofstad.
Dr Bilton het dr Pryke sowat ‘n maand gelede ingelig dat die nuwe kewerspesie sy naam sal dra. Die nuus daaroor is gepubliseer in die wetenskaptydskrif Systematic Entomology.
“Ek het voorwaar nie verwag dat dit na my vernoem sou word nie. Ek is baie bly daaroor – dis ‘n groot eer,” sê dr. Pryke, ʼn dosent in landskapsekologie, bewaringsbeplanning en metabevolkingsdinamika in die US Departement Bewaringsekologie en Entomologie.
Deur die bestudering van ‘n kombinasie van morfologiese (of strukturele) en molekulêre eienskappe het dr. Bilton bepaal dat die kewer baie uniek is. Dit verteenwoordig daarby ʼn bedreigde lid van die wêreld se fauna.
Die kewer is 8 mm tot 10 mm groot. Die insek se voetlengte, rugskild, geslagsdele en grootte is so eiesoortig dat dit in ʼn unieke kategorie val en dus in ʼn nuwe genus geplaas is. Volgens ʼn persverklaring van Plymouth Universiteit kom die kewer se naaste familielede rondom die Middellandse See en in Nieu-Guinee voor.
Volgens dr. Bilton is die kewer ʼn ware evolusionêre oorblyfsel wat slegs oorleef het in ʼn baie klein gebied naby Kaapstad. Dit is moontlik danksy die feit dat die streek ʼn relatief bestendige klimaat geniet het oor die afgelope aantal miljoen jaar.
“Capelatus is egter vandag uiters skaars. Ons is inderwaarheid slegs bewus van hierdie een bevolking wat gelukkig binne die Tafelberg Nasionale Park geleë is,” het dr. Bilton gesê.
Die vleilande op die Kaapse Vlakte waar die eerste voorbeelde destyds ingesamel is, is reeds in die 1960s drooggelê en toegebou vir voorstedelike behuisingsdoeleindes.
Dr. Bilton en ʼn aantal van dr. Pryke se studente het al tevergeefs oral oor die Kaapse Skiereiland, dele van die Weskus en die suidelike kuslyn gesoek vir verdere tekens van dié kewer. “Hulle het egter nog nie ʼn tweede populasie ontdek nie,” sê dr. Pryke.
Die studie in Systematic Entomology wys daarop dat Capelatus prykei weens sy beperkte voorkoms hoogs bedreig is. Dit verg dus onmiddellike optrede deur bewaringsliggame om dit verder te beskerm. Die kewer sal bes moontlik as krities bedreig geklassifiseer word – die mees bedreigde status wat aan ‘n spesie toegeken kan word wat steeds in die natuur voorkom .
- * Hierdie artikel is gebasseer op ‘n persverklaring wat vir die Universiteit Stellenbosch geskryf is.
- Vir ‘n verdere persverklaring van Plymouth Universiteit, besoek: https://www.plymouth.ac.uk/news/new-species-of-diving-beetle-living-in-isolation-in-africa