Agriculture

Klink ‘n glasie Pinotage op Perold

Op die stories agter ontdekkings – en heel dikwels die toevalligheid waarmee dit gemaak word kan mens gerus meer gereeld ‘n glasie klink.Neem nou byvoorbeeld die verhaal agter Suid-Afrika se Pinotage wyn… 

‘n Jaar of wat gelede loer ek in by ‘n tweedehandse boekverkoping op Hermanus. En daar loop ek ‘n effe verweerde rooiwynkleurige boek oor die lewe en bydrae van die wynboukundige prof. Abraham Perold raak: R.U.Kenney se “Abraham Izak Perold – Wegwyser van ons wingerdbou” uit 1981.

Ek’s nie veel van ‘n wynkenner nie (inteendeel!). Ek het wel agt jaar lank gewerk in die A.I. Peroldgebou neffens die Langenhoven Studentesentrum van die Universiteit Stellenbosch. Die boek koop ek toe uit blote nuuskierigheid oor wie die man was op die foto wat in die gebou se voorportaal hang. En so lees ek ‘n lekker plaaslike stukkie wyngeskiedenis raak.

Die voorblad van RU Kenney se boek oor AI Perold, vader van Suid-Afrika se Pinotage wyn.
Die voorblad van RU Kenney se boek oor AI Perold, vader van Suid-Afrika se Pinotage wyn.

Die spesifieke eksemplaar, so staan daar voorin met ‘n vloeiende vulpen geskryf, is in 1989 deur ‘n De Klerk (moontlik W.A.?) aan die Drakensteinse Heemkring geskenk. “Deur ‘n diep waardeerder,” staan daar ewe. En daarby ook nog dié paragraaf waarin die skenker self die eienskappe van Perold vir ‘n moontlike leser opsom: “Hierdie getuienis oor ‘n gròòt man. Kultuurmens ten beste, wetenskaplike per excellance, profeet, taalman vir Afrikaans, taalkenner soos min ander hier te lande, mens in die suiwerste en beste vorm…

Onder De Klerk se vloeiende handskrif is ‘n geel “Sticky Note” later geplak: “Nou deel van Boekery H.Hopkins”.  Mens kan maar net half wonder oor hoe dié boek dan nou verder sy pad vanuit die Paarl gevind het om uiteindelik te eindig op tafels vol geskrifte op Hermanus.

Ek het weer die boek uit die rakke gaan haal toe plakkate vroeër dié maand op plaaslike lamppale vertel het dat Internasionale Pinotagedag op 11 Oktober gevier is. Want Pinotage is ‘n Trots Suid-Afrikaanse produk, en Abraham Perold is die vader daarvan.

Perold het sy skoolopleiding aan die Hugenote Gedenkskool in Dal Josafat begin. Hy was onder meer die eerste professor in Wynkunde aan die Universiteit Stellenbosch, en later ook dekaan van die Fakulteit Landbou. Hy het die akademie in 1928 vir die KWV verruil, en daar tot met sy dood in 1941 in ‘n motorongeluk gewerk.

Vir inligting vir sy boek het Kenney onder meer gaan gesels met dr. Charlie Niehaus, een van Perold se voormalige senior studente en die man wat hom by die KWV opgevolg het. Daarby staan hy as vader van Suid-Afrikaanse sjerrie bekend. Toe hulle oor die geskiedenis van Pinotage-druiwe begin gesels het, het ‘n “dramatiese verhaal ontvou”, skryf Kenney.

Die nuwe kultivar is glo gebore uit Perold se ontevredenheid met die Pinot noir-druif. Anders as in Boergondië was dit in Suid-Afrika ‘n swak draer. Perold besluit toe om dit met Hermitage (ook bekend as Cinsaut) te kruis. Dit was in 1924.

Die kruising is uitgevoer in die wingerde van Welgevallen, die proefplaas van die Universiteit Stellenbosch. Perold het hier ook gewoon totdat hy vir die KWV begin werk het. Hy het vir sy senior studente die kruising gewys en van die verdere prosedures daarvoor vertel. Saailinge van die kruising het ook in sy tuin op Welgevalen gegroei.

Niehaus het vertel hoe hy een wintersoggend in 1928 op Welgevallen aangekom het, net om te sien hoe die plaasvoorman en sy werkers aan die opruim was aan Perold se private tuin. Bome en struike is uitgehaal om “met alles weg te doen”.

“Geluk bo geluk was die akkertjie met die kruising-saailinge nog ongeskonde,” het Niehaus vertel. Die voorman, ‘n mnr. Van den Berg, is dadelik gewaarsku om nie aan die paar wingerdstokkies te raak nie, want hulle moes bly staan tot besluit is wat om daarmee te maak.

Die saailinge is weldra Elsenburg toe geneem deur prof. Chris Theron, wat Perold opgevolg het as hoof van die afdeling Wynbou-enologie. Hy het hulle daar vermeerder en uiteindelik die kultivar wat ons vandag as Pinotage ken daaruit geselekteer. Volgens Theron se herinneringe het hy “vier stokkies op onderstokke geënt”.

Op ‘n dag het Perold en Theron deur die wingerd op Welgevallen met sy groot verskeidenheid gestap. Perold het die een druifsoort na die ander uitgeken – totdat hulle skielik by die vier geënte stokkies gekom het.

Perold het glo daarna gekyk en gevra: “Wat op aarde is dit?”

“Ek sê toe vir hom dit is sy kruising van Pinot en Hermitage,” het Theron vir Kenney vertel. “Hy was ‘n rukkie lank uit die veld geslaan, maar toe het die groot bespreking begin oor wat ons die nuwe druifsoort sou noem.”

“UIteindelik het ons besluit dit moet òf Hermino(t) òf Pinotage wees om beide die voorsate te vereer, en ná nog wik en weeg het Pinotage gewen.”

Perold was natuurlik ook die man wat die tafeldruif Barlinka vanuit Algerië na Suid-Afrika gebring het.

Related posts

Doctoring bananas

Engela Duvenage

Products of origin: taking a page from the Rooibos industry’s book

Engela Duvenage

South African ship and robots to uncover the future of climate change in Africa

Sibusiso Biyela

Shisa Sayensi: Bacwaninga izakhi zofuzo lwenkomo ukuqeda indlala

Sibusiso Biyela

In search of a true Karoo chop test

Engela Duvenage

Bushmen cure-all offers locals a sustainable income

Sarah Wild