Agriculture

Loopbaan in vrugtebedryf “net ‘n fees” vir prof. Daantjie

Prof. Daantjie Strydom op die Strydoms se proteaplaas in die Groot Winterhoekberge.  Foto: Isobel van Geyt
Prof. Daantjie Strydom op die Strydoms se proteaplaas in die Groot Winterhoekberge. Foto: Isobel van Geyt

Word jy op ‘n vrugteplasie in die Langkloof gebore, word jou pad dalk so half uitgesit om in die vrugtebedryf te gaan werk. Veral as jy dan nog ‘n beurs of twee van die destydse Sagtevrugteraad kry om plaaslik en internasionaal te studeer. Oor die weë wat sy lewe ingeslaan het is die 84-jarige prof. Daantjie Strydom egter geensins spyt nie – dit was inderwaarheid alles “een groot fees”!

Prof. Strydom was vanaf 30-jarige ouderdom vir by die drie dekades hoof van die Departement Hortologie aan die Universiteit Stellenbosch. Navorsing saam met sy studente het onder meer aan die bedryf die 1-2-3 snoeireël vir kernvrugte gegee, asook die eerste werk in Suid-Afrika oor hervestigingsprobleme by appels. Hy het setprobleem by Packhams-pere ondersoek, en protokolle vir die vermeerdering van hardehoutsteggies uitgewerk. Danksy hom is die opleistelsels vir kernvrugte verander vanaf die kelkfatsoen na die gebruik van sentrale leiers by aanplantings teen hoër digthede. Daarby het hy nuwe rusbrekende middels help evalueer en chemiese uitdunprotokolle vir appels ontwikkel.

Na sy jeugdige aftrede uit die akademie op sestigjarige leeftyd het prof. Daantjie vir homself ‘n tweede loopbaan as konsultant in Suid-Afrika en in die buiteland uitgebeitel. Plaaslik was hy veral by Ceres Fruit Growers en die Dutoit Groep betrokke. Hy het tot onlangs nog op die direksie van laasgenoemde gedien, waar hy gehelp het om ‘n sterk tegniese afdeling tot stand te bring. Daarby is hy ook steeds betrokke by die Strydom-familie se uitvoerproteaplaas Baanbreek in die Groot Winterhoekberge naby Porterville.

Deesdae kry prof. Daantjie meer uitspantyd in sy aftreehuis buite Stellenbosch, waar die netjiese boontjie-akker en vrugtebome steeds getuig van sy groen vingers. In Maart vanjaar moes hy egter afskeid neem van sy vrou, Betty, wat hom na ‘n huwelik van 54 jaar en drie dogters ontval het.

In sy studeerkamer, vanwaar hy nog help met Baanbreek se sake, hang oorkondes en spesiale toekennings saam met ‘n spotprent deur Die Burger-tekenaar Fred Mouton. Een sertifikaat erken sy bydra tot die Kaaplandse Pomologievereniging, terwyl ‘n ander wys hy was in 1982 die Landboukundige van die Jaar. In 2012 is sy diens tot die sagtevrugtebedryf erken met die OSH Reinecke Toekenning.

Prof. Daantjie gesels ligweg en op-en-wakker oor hoogtepunte gedurende sy loopbaan, maar in die proses word sy waardevolle rol in die bedryf duidelik – as navorser én as inspireerder van geslag op geslag akademici, navorsers, produsente, konsultante en ander industriemense wat op hul beurt waardevolle werk vir die plaaslike vrugtebedryf doen. Hy’t gehou van klasgee, en om sy studente uit te daag. Hy beskou die stigting van die destydse Kaaplandse Pomologiese Vereniging saam met bedryfsleiers as ‘n hoogtepunt in sy loopbaan.

Daarom is dit gepas dat ‘n beursfonds wat sy naam dra onlangs van stapel gestuur is om ‘n volgende geslag hortoloë aan die Universiteit Stellenbosch se studies geldelik te ondersteun. Daarby word die toekenning wat die topstudent in hortologie aan die Universiteit jaarliks kry, ook herdoop na die Prof. Daan Strydom/HORTGRO Science-prys.

Sy eie studentejare het in 1948 begin, toe hy as eerstejaar by die Universiteit Stellenbosch aangemeld het. Daar was hy besonders gelukkig om van die voorste tuinboukundiges van hul tyd, soos prof. OHS Reinecke en prof. MB Black, as sy leermeesters te hê.

Hy’t net kans vir ‘n kort vakansie van twee weke gehad voordat hy op 2 Januarie 1951 ingeval het by die Westelike Provinsie Vrugtenavorsingstasie op Stellenbosch. Genoeg van studies het hy egter nog nie gehad nie, en het hy met sy MSc-studies (wat hy uiteindelik cum laude behaal het) begin. Dié was oor die bestuiwingsverenigbaarheid tussen die bekende Granny Smith-appels, en ‘n soort Dunseedling-kookappel wat vandag nie meer in Suid-Afrika geplant word nie.

Saam met tydgenote soos landbou-ekonoom prof. Eckart Kassier, druifkenner prof. Chris Orffer en Kleintjie Menhardt van die Navorsingsinstituut vir Groente en Sierplante op Roodeplaat het hy die kans gehad om in die VSA by die Universiteit van Kalifornië sy doktorsgraad aan te pak oor die biologie en fisiologie van wortelvorming in die steggies van die Marianna-pruimonderstam.

“Ons was almal oorsee danksy die versiendheid van die verskillende bedryfsrade wat geweet het hulle moet belê in die uitbreiding van kennis van jong manne,” vertel prof. Daantjie, wat sy verblyf op die Davis-kampus tot 1959 tussen mense van regoor die wêreld steeds as ‘n “ongelooflike openbaring” beskryf.

Nà die VSA het hy teruggekeer Stellenbosch toe vir ‘n senior lektorspos. Hier is hy binne ‘n jaar aangestel as professor met die skielike afsterwe van die departementshoof prof. AF de Wet. Onder sy leiding is die departement se naam onder meer van Pomologie tot Hortologie verander, om ook die invloed van die fynbosblomkultuur van die Wes-Kaap te reflekteer. Die grondslag van wêreldklas navorsing en opleiding is gelê wat vandag nog uiters waardevol vir die plaaslike landboubedryf is.

“Wat ek bereik het, het ek nie alleen gedoen nie, maar het dit reggekry danksy ongelooflike mense wat saam met my gewerk het,” kom dit beskeie. “Dit was ‘n fees.”

 

Related posts

Beefing up efforts to breed with cattle

Engela Duvenage

Taking stock of ‘the worst of all bee diseases’

Engela Duvenage

Science Voices: Meatless Mondays might be harmful in SA

AdminBraai

Biltong research on a tropical island

Engela Duvenage

Sunblock for your apples, anyone?

Engela Duvenage

Save indigenous Zulu sheep and you save rural farmers

AdminBraai