Kort voor die einde van die skooljaar pak my Graad 1-tjie se klas lesse aan oor die planete in ons sonnestelsel, oor die maan, die son en die sterrehemel. ‘n Paar weke vantevore het haar klas ook vir ‘n skooluitstappie die Kaapse planetarium besoek. By ‘n kliënt stop iemand ‘n pak plakkate in my hand oor die onderwerp, en nou is daar ook bewenens Barbie-prentjies ook ene oor ons sonnestelsel teen dogtertjiepienk kamermuur. In die Wellingtonse biblioteek kry ons ‘n lieflike boek in Afrikaans vir kinders, geskryf deur ‘n Suid-Afrikaanse sterrekundige Tony Farrell.
By gebrek aan ‘n teleskoop wil sy met die verkyker na die kraters in die maan kyk. Gelukkig tog dat volmaan gereeld gebeur! Wys jy haar ‘n prentjie van een van die planete, is sy gou om vir jou op grond van die oppervlak daarvan te vertel watter ene dit is. Jupiter het granietstrepe, Venus is gelerig en Neptunes is blou. Dis dinge wat ek wèèt ek veronderstel is om te wèèt, maar goeie aarde, alles voel so deinserig en flou in my brein soos die radiogolwe vanaf die verste sonnestelsel.
My dogtertjie het ‘n sagte plekkie vir die ysringe rondom Saturnus. Sy vertel jou watter planeet nou nie meer ‘n planeet is nie (Pluto is ‘n paar jaar terug tot ‘n dwergplaneet herklassifiseer) en watter bygekom het sedert ek laas op skool was. Ek vertel haar dat die Melkweg partykeer deur mense wat strokiesprente teken, uitgebeeld word as ‘n klomp melkbottels pleks van sterre, en sy giggel.
Daar’s nie noodwendig iets spesiaals aan my dogtertjie nie. Haar oorlede oupa het graag na “Sterre en Planete” op RSG geluister, maar sy was te klein toe hy dood is om dit nou werklik te onthou. Sy’s gelukkig om gebore te wees met ‘n nuuskierige aard, ja, en ouers wat dit verder probeer ontwikkel. Noudat sy leer lees het is sy besig om ook op haar eie die wêreld om haar te leer ken.
Ek weet dat volgende week, wanneer ‘n ander onderwerp by die skool behandel word, dit weer haar aandag sal trek en die sogenaamde “flavour of the week” sal wees. (Wens ek kan vooraf weet wat dit is, sodat ek dit net bietjie kan opswot om darem nie so agter te voel nie!)
‘n Paar dinge besef ek so in die loop van haar nuutgevonde entoesiasme oor ons hemelruim. Onder meer dat mens ontsettend gou baie dinge vergeet wat jy self op skool geleer het. En dat dit eintlik ‘n goeie ding is dat mens nou saam met jou kinders se skoolwerk ‘n verfrisserskursus daarin kry!
Daarby ook hoe belangrik dit vir ouers is om hul kinders bloot te stel aan spesifieke onderwerpe en idees, en hoe blywend vormend dit kan wees. Wat sou gebeur het as Bill Gates se pa nooit vir hom wou toelaat om rekenaarklasse te loop nie? Of as Ernie Els nooit sy eerste stel gholfstokke present gekry het nie? As hulle maar net heeldag hulself met die televisie moes vermaak? Of nie eens dit nie, soos wat die lot is van te veel kinders wat in ons land in moeilike omstandighede grootword, wat nie eens kan staatmaak op die inspirasie en entoesiasme van besonderse onderwysers nie?
Ook besef ek hoe belangrik die aanbied van geleenthede en kanse is, en hoe dit mens op jou lewenspad kan sit. Aan die einde van November het ek myself bevind by die 8ste SKA SA-konferensie vir student van regoor die land wie se studies die afgelope paar jaar danksy die SKA Afrika-radioteleskoopprojek befonds word. Die ingenieurs onder hulle het nog altyd ‘n kans gehad om ‘n beurs van ‘n moontlike werkgewer te kry, maar vir die gemiddelde wiskundige of sterrekundige was sulke studiebeurse tradisioneel ‘n luukse in Suid-Afrika.
Dis nou voordat daar besluit is om ‘n reeks radioteleskope in die Karoo te bou wat uiteindelik die Vierkante Kilometer Reeks of “Square Kilometre Array” (SKA) teleskoop sal word wat diep-diep-diep in die sterreruim sal inkyk.
Die internasionale SKA-projek word deur sterrekundiges en fisici wêreldwyd ondersteun, en sal by voltooiing die grootste wetenskapsprojek op aarde wees. En daarby sal dit grootliks vanuit Suid-Afrika bedryf word! Nie al die SKA-beurshouers sal noodwendig eendag in Suid-Afrika of elders by ‘n ruimteprojek werk nie. Minstens weet ek dat my paar pennies belastinggeld help om ‘n hele gros besonderse knap jongmense ‘n vormende kans op verdere onderrig te gee in ‘n nicheveld waarbinne hul passies lê.
By ‘n vorige studentekonferensie het ek ‘n vrou ontmoet, wat, soos ek, die ma van twee dogtertjies is. Haar antwoord bly my by oor wat haar belangstelling sodanig geprikkel het om ‘n doktorsgraad in sterrekunde aan te pak: “Ek en my polisieman-pa het saans op die stoep gesit en sterre kyk; dit was ons beste tye saam.”