Agriculture

SA Akademieprys vir student se navorsing oor melkkoeivoeding

Lobke Steyn
Lobke Steyn

Op skool op Vredenburg aan die Weskus wou Lobke Steyn ‘n veearts word. Sy’s Pretoria toe met dié planne in gedagte. En toe ontdek sy deur die loop van haar voorgraadse studies presies hoe veekundige navorsers met slim proefnemings en planne vir boere kan help om die beste uit hul kuddes te kry. En ‘n nuwe wêreld oor die werk met diere het vir haar oopgegaan.

Haar belangstelling het onlangs aan haar ‘n nasionale medalje in die sak gebring, as ontvanger van die Junior Kaptein Scott-medalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Dié cum laude-student aan die Universiteit Stellenbosch het die medalje ontvang vir die beste MSc-verhandeling in Veekundige Wetenskappe wat landswyd deur ‘n universiteitstudent gelewer is.

In haar tesis, getitel “Supplementation of a high fibre concentrate to Jersey cows on pasture”, het dié oud-skolier van Hoërskool Vredenburg gekyk na alternatiewe veselryke voere  wat veral in die winter as byvoeding vir Jerseykoeie gegee kan word. Die meeste van haar navorsing het sy op die Outenikwa Navorsingstasie van die Wes-Kaapse Departement Landbou op George gedoen, waar die Jerseykoeie permanent op aangeplante weidings aangehou word.   Soggens en saans word hulle in die melkportaal  gemelk, en kry dan sommer ook hul kragvoer net na melking.

Kikoejoe, oorgesaai met raaigras, is die mees algemene weidingtipe waarop beeste in die Suid-Kaap aangehou word. In die wintermaande groei kikoejoe egter nie, terwyl die groeitempo van raaigras baie laag is. Dit veroorsaak dikwels  ‘n tekort aan ruvoer, wat dan aangevul moet word met, onder meer, lusernhooi. Die prys daarvan in die Wes-Kaap kan egter taamlik hoog wees, en dus sny dit die winsgrense van weidinggebaseerde melkproduksie.

Steyn het haar visier daarop gestel om meer winsgewende en doeltreffende hoë-vesel kragvoere te identifiseer om die probleem van genoeg winter-ruvoer  te oorkom. So het haar oog geval op veselryke graanneweprodukte wat as aanvulling gegee kan word saam met sappige winter- en lenteweidings.

Een wetenskaplike artikel oor haar navorsing het reeds in die internasionale vaktydskrif Animal Feed Science and Technology verskyn.

“Haar werk is direk toepasbaar in die praktyk en van betekenisvolle belang vir plaaslike produsente en die veevoerindustrie,” vertel haar trotste studieleier, prof. Christiaan Cruywagen van die US se Departement Veekundige Wetenskappe.

Nog is dit het einde niet vir Steyn. Sy is nou besig met navorsing vir haar doktorsgraad  en dié keer kyk sy na watter byvoere boere winsgewend én doeltreffend kan gebruik as aanvullings vir hul melkkoeie waarmee daar in intensiewe weidingstelsels geboer word.

“Boere wil nie noodwendig so afhanklik van mielies wees as aanvullings vir hul melkkoeie nie,
vertel Steyn, wat tans besig is om die moontlikhede rondom die gebruik van sitruspulp, ‘n weggooiproduk van die sitrusindustrie  en melasse, ‘n neweproduk van die suikerindustrie,  te ondersoek.

 

Related posts

Doctoring bananas

Engela Duvenage

Everything’s coming up geraniums

Sarah Wild

Beefing up efforts to breed with cattle

Engela Duvenage

Sunblock for your apples, anyone?

Engela Duvenage

Climate change, farming and profits: It all depends

Engela Duvenage

Shisa Sayensi- Isayensi yeviki 25 October 2016

Sibusiso Biyela