Agriculture

Garagiste-wynmakers se “pa”

Prof. Wessel du Toit aan die wyn bottel. Foto: verskaf
Prof. Wessel du Toit aan die wyn bottel. Foto: verskaf

Prof. Wessel du Toit van die Universiteit Stellenbosch se Departement Wingerd- en Wynkunde staan al sedert 2005 pa vir die Garagiste-wynmaak kortkursus wat twee keer ‘n jaar tot 50 aspirant-wynmakers-in-die-kleine van regoor Stellenbosch toe lok. Menige motorhuis is sedertdien al tot ‘n mini-wynkelder omskep.

Die eienaars van die eerste wynreeks uit KwaZulu-Natal, Swede, Britte, Zimbabwiërs en selfs ‘n Olimpiese medaljewenner was al onder sy studente.

Prof. Du Toit het die idee vir dié praktiese kortkursus destyds gekry toe ‘n Johannesburgse sakevrou gebel het om raad te vra oor die maak van wyn. Sy wou egter nie noodwendig haar professie opgee om die Departement se driejarige graadprogram te volg nie.

Sedertdien word kursusgangers die basiese dinge geleer van die wynmaakproses– van die pluk van die ryp druiwe, die byvoeging van gis tot die verouderingsproses en die uiteindelike bottelering van die eindproduk. Dit vind onder meer in die Departement Wingerd- en Wynkunde  se eie eksperimentele kelder plaas. Prof. Du Toit word hierin bygestaan deur sy kollega en wingerdkundige dr. Albert Strever.

Prof. Du Toit sê die kortkursus is steeds enig in sy soort. Die volgende aflewering daarvan vind weer in September plaas.

Hy glo egter die tyd is nou ryp om ook ‘n meer gevorderde kursus by te voeg vir diegene wat nie net hul vaardighede wil opskerp nie, maar ook heelwat fynere dingetjies wil leer oor die wynmaakproses. Daarom gaan die gewilde Garagiste-kortkursus nou ‘n meer gevorderde Ouboetie bykry. Dit word vir Junie beplan, en sal bestaande kleinskaalse wynmakers se kennis oor die wynmaakproses beslis verder verbreed.

Daar sal onder meer in diepte gekyk word na veral die foute wat kan insluip gedurende die wynmaakproses, die rypwording van druiwe, die gebruik van hout en hoe om verskillende wynstyle te maak.

“Dit sal beslis ‘n bietjie meer akademies aanslag hê, en sal tweedejaarsvlak-inligting bevat,” voeg dié lektor in wynchemie by. “Dis beslis vir diegene wat hul kennis tot op ‘n volgende vlak wil neem.”

Related posts

Biltong research on a tropical island

Engela Duvenage

The UCT prof who helped save the bluefin tuna

Engela Duvenage

Oor Laingsburg se “Dra Wol” en merinokonferensies

AdminBraai

In search of a true Karoo chop test

Engela Duvenage

US plantpatoloog sê ja: vernietigende piesangsiekte nou ook in Afrika

Engela Duvenage

Sunblock for your apples, anyone?

Engela Duvenage